Welslae inkatrol

Die Vrystaatse vlieghengelspan het einde verlede jaar ’n silwermedalje behaal in die jaarlikse meesterskompetisie wat November in Barkly-Oos aangebied is.


Die Vrystaatse vlieghengelspan bestaande uit, van links Dale Bickell, Pierre Nel, Gerrit Redpath, Theo Reinders en Charles Hall einde verlede jaar in Barkly-Oos.Foto: Verskaf

Die Vrystaatse vlieghengelspan het einde verlede jaar ’n silwermedalje behaal in die jaarlikse meesterskompetisie wat November in Barkly-Oos aangebied is.

Die voorsitter van die Vrystaatse vlieghengelaars, Zane Murray, verduidelik vlieghengel is ’n vertakking van hengelsport waarin baie ligte kunsaas gebruik word om ’n groot aantal spesies vis te vang.

“Die maak van die kunsaas, oftewel ‘vliegies’, is ’n stokperdjie op sy eie en die meeste ernstige vlieghengelaars maak hul eie vliegies van verskeie natuurlike haar- en veermateriale,” verduidelik hy.

Vlieghengelaars neem deel in ’n junior, ope of meesterklas. Die meesters is 50 jaar en ouer. Daar is ook ’n liga vir vroue.

“Vir ’n kompetisie bestaan ’n span uit vyf hengelaars. Deur loting word elk in ’n groep ingedeel saam met een van elke ander provinsie. Daar is dan vyf groepe wat in elk van die vyf sessies teen mekaar deelneem vir plekke. ’n Eerste plek besorg aan ’n deelnemer een punt, ’n tweede plek twee punte, en so aan. Ná vyf sessies word die algehele plasingspunte gebruik om die plasing in die groep as geheel te bepaal.

“ ’n Hengelaar wat al vyf sy sessies in sy groep gewen het, sal dus vyf punte hê. Die hengelaar met die laagste gesamentlike plasing is dan die wenner. Indien twee hengelaars dieselfde plasing het, word die aantal visse wat gevang is en hul groottes in berekening gebring – byvoorbeeld 100 punte per vis en 10 punte per cm van elke vis – om die wenner te bepaal. Die provinsie se plek word bepaal deur die som van die vyf spanlede se plasing gesamentlik.”

Murray sê die Vrystaat het einde verlede jaar ’n silwermedalje en 57 punte behaal. Hulle het die goud met een plasing misgeloop teen KwaZulu-Natal, wat 56 punte behaal het.

Selfs met die getal vis wat die Vrystaatspan gevang het (183), was hulle net een punt ná Natal, met 184 vir die kompetisie.

Gerrit Redpath van die Vrystaatspan het ook individueel ’n bronsmedalje behaal. Die 2023-spanlede was Redpath (kaptein), Charles Hall, Theo Reinders, Dale Bickell en Pierre Nel.

Murray nooi belangstellende vlieghengelaars om hom te kontak deur e-pos na zane@africanmc.co.za te stuur.

Charles Hall in die hengelwater in Barkley-Oos.

Charles Hall in die hengelwater in Barkley-Oos.

You need to be Logged In to leave a comment.