Willie Schoeman en Michiel Kruger op die rolbalbaan by die Orangia-rolbalklub waar hulle klublede is. Foto: Lientjie Mentz


Nie eers die onderbreking van twee jaar weens die Covid-19-pandemie kon Bloemfontein se gesiggestremde rolbalkampioen se spoed breek nie.

Michiel Kruger (77) het vanjaar van 22 tot 28 Mei die tiende keer agtereenvolgens goud gewen in die enkelspel van die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskap vir gestremde sportlui.

Hy het nog nie ’n enkelspelwedstryd op ’n Suid-Afrikaanse kampioenskap in sy afdeling (B1) verloor nie, al moes hy vanjaar saam met ’n ander spelleier speel.

Willie Schoeman (80), sy afrigter wat al jare saam met hom aan kampioenskappe deelneem as spelleier, kon nie vanjaar saamgaan nie.

In sy plek het Gerhard Gouws as spelleier opgetree.

“Gerhard het al vir my opponente as spelleier opgetree, so hy ken Willie se aanwysings.”

In die dubbelspel het Kruger saam met André Manders van Gauteng gespeel en hulle het silwer gekry.

Kruger en sy gemengde dubbelspelmaat, Tracy Smith, sal na alle waarskynlikheid ingesluit word in die Suid-Afrikaanse span wat in Maart volgende jaar aan die Internasionale Gesiggestremde Rolbalvereniging (IBBA) se kampioenskap in Australië deelneem.

Hy en Tracy het al dikwels internasionaal meegeding.

You need to be Logged In to leave a comment.