Daar was verlede week groot opwinding rondom die pluimbalbaan op die Suid-Afrikaanse pluimbalkampioenskapsbyeenkoms wat in Benoni aangebied is.
Die byeenkoms het van 30 Oktober tot 3 November plaasgevind, met twee plaaslike spelers wat die kollig gesteel het.
Bloemfontein se netbalster Nita Scholtz-Albertse het soos verwag die enkelspel gewen toe sy nog ’n Vrystater, Carolien Moll, in die finaal gemaklik met 21-6, 21-6 verslaan het.
Die kampioenskap sal egter onthou word vir ’n baie interessante wedstryd waarvoor pluimbal-kenners se monde behoorlik gewater het.
Dit was die eindstryd in die vroue-dubbelspel. Nita het al die dubbelspeltitel verskeie kere saam met haar Bloemfontein-maat, Leah Schoeman, gewen. Leah het egter onlangs uitgetree en Nita het hoofsaaklik op enkelspel gekonsentreer omrede die Suid-Afrikaanse afrigter en keurders haar nie as ’n dubbelspelspeler gereken het nie. Hulle het besluit die Gautengers Deidre Laurens en Amy Ackermann sal in dubbelspel ondersteun word.
Deidre en Amy het goed op die wêreldranglys gevorder en is nou nr. 65. Hulle is ook die Afrika-kampioene.
Nita en haar afrigtingspan het egter nog heeltyd gemeen dat sy werklik ook die beste dubbelspelspeler in Suid-Afrika en Afrika is en meer geleenthede in dubbelspel moet kry. Sonder ’n dubbelspelmaat kan sy nie dié punt bewys nie.
Net voor die inskrywings vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap gesluit het, het Megan de Beer – wat as junior die wêreld aan die brand gespeel het – besluit om saam met Nita in te skryf vir die dubbelspel.
Die pluimbalgeledere was onmiddellik in twee kampe: dié wat meen dat Deidre en Amy ’n gevestigde kombinasie is en dat hulle die gunstelinge is vir die Suid-Afrikaanse titel, en dan meestal die Vrystaters wat Nita en Megan ondersteun. Omdat Megan slegs ’n maand gehad het om die roes af te skud en weer mededingend teen die nr. 65-paar in die wêreld te speel, was dit ’n groot waagstuk. Die Vrystaters weet egter dat Nita en Megan van ’n ander stoffasie gemaak is, veral geestelik.
Die toernooi werk toe so uit dat hulle mekaar in die eindstryd ontmoet, en wat ’n stryd was dit nie.
Nita en Megan het die eerste stel met 21-11 gewen en met aanvallende spel oorheers. In die tweede stel is hulle gedwing om te verdedig en het hulle met 11-21 verloor.
Die derde stel was ’n wipplankstryd met Nita en Megan wat in ’n stadium 13–15 agter was. Met hul sterk wilskrag het hulle egter seker gemaak dat hulle die titel verower en dit met 21-16 gewen. Dit was duidelik dat die druk te veel was vir die Gautengers en dat Nita en Megan onder druk gedy.
Hierdie titel is baie soet omrede hulle met min oefening die keurders baie gegee het om oor na te dink.
Kenners meen met die regte ondersteuning kan die twee gemaklik as die beste paar in Afrika gekroon word in 2024.
Van 30 November tot 3 Desember word die Suid-Afrikaanse Ope in Kaapstad aangebied.
Indien die loting so uitwerk kan Nita en Megan weer te staan kom teen Amy en Deidre – en met Megan wat nog ’n ekstra maand het om verder te oefen, kan daar vuurwerke wag.