Jan Blohm tree Saterdag in Bloemfontein op. Foto: Zenneth Steyn Photography


Kom reis saam met Jan Blohm en sy band deur 20 jaar se treffers, asook nuwe materiaal, in ’n vertoning wat jou van begin tot einde sal vermaak en in verwondering laat.

Dié rebelseun is ouer en meer volwasse. Dít kan jy hoor in sy lirieke, sy passie in die stiltes tussen woorde, terwyl sy eerlike, rou melodieë jou hartsnare pluk.

Sedert Jan Blohm se debuutalbum, Melkstraat Confessions, in 2004 verskyn het, het hy die Afrikaanse rock-wêreld op sy kop gedraai en verskeie eerbewyse ontvang: Album van die jaar (2005 en 2009), Beste Rockgroep van die jaar (2005) en Beste Afrikaanse DVD van die jaar (2008), om enkeles te noem.

’n Musikale sirkel wat begin het met frustrasies, teenkanting sonder begrip en hoop, is vandag voltooi met selfaanvaarding en trots.

Jan Blohm het deur die jare nie net gegroei as musikant en liriekeskrywer nie; sy talent as ’n skilder is boonop ten volle ontwikkel en sy verbeelding op doek losgelaat. Dit kon gesien word by sy uitstalling op vanjaar se Vrystaat Kunstefees.

Hy tree Saterdag om 19:30 vir 20:00 op in Barrels Pub in Monumentweg, Oranjesig. Kaartjies kos R200. Rig navrae deur 064-810-0137 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.