Ryk Kleinhans is een van die kunstenaars op vanjaar se Monte Bellofees op 7 September.Foto: Verskaf


Een leser staan die kans om twee kaartjies te wen vir die gewilde Monte Bello-fees wat Saterdag 7 September buite Bloemfontein aangebied.

Nie net gaan die daglange fees aan gaste die geleentheid bied om te kuier om heerlike kos en ’n keur van die lekkerste wyn, brandewyn en jenewer nie – die gewilde sangers Steve Hofmeyr en Ryk Kleinhans tree tydens die fees by Monte Bello op.

Op die fees waarvan die hekke reeds om 12:00 oopmaak, sal gaste kan proe aan wyn, asook ’n verskeidenheid ander sterk drankies, soos Vuilhond-brandewyn, Dirty Dog-jenewer, Dirty Monkey-rum en -likeur, Gelston se whiskey, Sombrero-tequila en KWV-brandewyn. Van die land se voorste wynplase, soos Jakkalsvlei, Alvi’s Drift en Hermanuspietersfontein sal verteenwoordig word.

Kosstalletjies bied aan gaste die geleentheid om te kies uit heerlike peuselkos: van soetgoed en Mooivlakte se haloumi, tot Monte Bello se sappige skaap-op-die-spit en roosterkoekbraaibroodjies.

Daar gaan ook ’n stalletjie wees met biltong en droëwors.

Benewens die verskeidenheid eetgoed sal daar 15 stalletjies wees waar allerlei produkte te koop is. Dit sluit in Liedjiesbos se olywe, badprodukte en olyfolies; Aggetoggie en Lyla-Lyfies se babaklere en klere vir premature babas; mooi klere van #WANT; en vir die manne Wilder Clothing se rugbytruie.

Spesiaal vir kinders is daar ’n speelarea en stalletjies wat bederfgoedjies vir hulle verkoop, soos Elize Sweeties, Tropical Fruit Ice en Towerbos.

Die kinders sal kan baljaar op springkastele en smul aan spookasem en ander lekkernye.

Daar gaan nie net heelwat te koop wees nie, maar ook die geleentheid vir gaste om hulself met ’n vinnige spa-behandeling en ’n glasie vonkelwyn te bederf.

Die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland gaan ook uitgesaai word.

Kaartjies vir die geleentheid kos R300 en is op die webwerf computicket.com beskikbaar. Dit gee ook toegang tot die vertoning van Steve Hofmeyr om 19:30, sowel as ’n optrede deur Ryk Kleinhans om 15:30 op die verhoog.

Elke gas kry ’n proe-glasie en kan ’n verskeidenheid wyn en ander drankies proe.

Die kos op die geleentheid word nie deur die kaartjieprys gedek nie, en betaling op die geleentheid is slegs moontlik met bankkaarte (geen kontant).

BloemNuus is die gedruktemediaborg vir die Monte Bello-fees.

Om die kans te staan om twee kaartjies vir jou en ’n metgesel te wen, like die inskrywing oor die Monte Bello-fees op Bloemnuus se Facebookblad en “tag” drie vriende. Die wenners sal Donderdag 29 September op Bloemnuus se Facebookblad aangekondig word.

You need to be Logged In to leave a comment.