Bloemfonteiner Marius Coetzee het onlangs gehoor dat hy aangewys is as wenner van die Ingrid Jonker L’art Poétique-digkompetisie.
Coetzee het die 2021-kompetisie gewen met sy gedig “Tyd”.
Hy is effens uit die veld geslaan, maar in dieselfde asem “so gelukkig soos ’n vark in modder” sê Marius oor dié eer.
“Dit is ’n groot aansporing.”
Coetzee sê hy skryf al van sy skooldae af gedigte.
“Die afgelope jare dink ek deurlopend aan kognisie, die werking en wonders van die menslike brein en die ‘miljuistende’ verskillende persepsies wat deur elke mens se brein flits wanneer hy byvoorbeeld ’n boek lees.”
Dit is nie die eerste keer dat Coetzee digkuns vir ’n kompetisie inskryf nie.
Hy het ook verlede jaar aan die Inspraak-kompetisie deelgeneem, en vier van sy gedigte is by die bloemlesing Inspraak 2 ingesluit.
Die meeste van die gedigte wat hy al geskryf het, is op LitNet se podium vir digters en skrywers gepubliseer.
“Ek is van mening dit is ’n sinvolle begin vir enige jong skrywer om sy vlerke te sprei en so ’n bietjie sy eie styl en palet te ontwikkel.”
Sodra hy klaar is met ’n gedig, plaas hy dit eers op Facebook.
“Dit is regtig ’n goeie klankbord. Midde-in die grendeltyd het die uitgewer van Minimal Press, Zalman Davis, vir my ’n pluimpie gegee en ’n boodskap gestuur dat ek moet publiseer. Ek het daarna toenemend met die idee gespeel om ’n bundel uit te gee.”
As deel van Coetzee se prys ontvang hy ’n publikasiekontrak vir ’n digbundel.
“Daar is die afgelope paar dekades baie digbundels uitgegee, wat natuurlik fantasties is vir Afrikaans. Die verkope van digbundels is egter bejammerenswaardig.
“Dit is juis waarom ek dink aan ’n vars, nuwe konsep vir my bundel. Ek speel met die idee om die gedigte in die bundel voor te lees, aangevul deur oudiovisuele effekte soos dans, animasie en skilderye.”
Hierdie idee het raakpunte met Coetzee se heeltydse werk as innoverings- en ontwikkelingsbestuurder by die Odeion Skool vir Musiek (OSM).
Hy was voorheen agt jaar woonagtig in Finland, waar hy gemoeid was met die skepping van saamgestelde grade in musiek.
Hy sê met sy digkuns is dit nie noodwendig musiek in die ware sin van die woord wat hy deel van sy werke wil maak nie, maar ’n besliste ouditiewe bewussyn.