Met altesaam 33,8% van die stemme teenoor die ANC se 32,5% in die pas afgelope nasionale verkiesing, is die DA nou die grootste politieke party in die vyf metrogebiede van Suid-Afrika.
Onderhandelings op hoë vlakke word gevoer oor koalisies of samewerking nadat die ANC slegs 39,8% van die stemme op hom kon verenig en dus nie ’n volstrekte meerderheid het nie. Die DA het 21,8% van die nasionale stemme, gevolg deur MK met 14,5% en EFF met 9,8%.
In die Vrystaat lyk die setels vir die provinsiale wetgewer soos volg: Die ANC het 16 setels, die DA het 7 en die EFF het 4, terwyl ACT, MK en die VF Plus elkeen 1 setel het.
Die DA het reeds sy sewe lede bekend gemaak wat eersdaags as lede van die Vrystaatse wetgewer ingehuldig gaan word. Hulle is: dr. Roy Jankielsohn, David van Vuuren, Werner Pretorius, David Masoeu, Dulandi Leech, Jafta Mokoena en Dave McKay.
Pretorius, Masoeu, Leech en McKay was voorheen raadslede in die Mangaung-metro. Leona Kleynhans, Mariëtte Pittaway en James Letuka keer nie terug na die wetgewer nie.
Dr. Igor Scheurkogel, wat ’n DA-raadslid in die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom was, word die Vrystaatse lid in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).
Die vier Vrystaters wat parlement toe gaan, is Werner Horn, dr. Annelie Lotriet, Karabo Khakhau en George Michalakis. Horn, Lotriet en Khakhau was reeds lede van die Nasionale Vergadering en Michalakis lid van die NRP.
Die DA se steun het van 17,58% in 2019 na 21,85% vanjaar gegroei.
Hy sê dit is noemenswaardig dat die DA in 2000 gestig is en net 8,47% van die stemme in die Vrystaat gekry het in die eerste nasionale en provinsiale verkiesing waaraan hy in 2004 deelgeneem het.
Die party se steun het sedertdien met 13,38 persentasiepunte gegroei.
In teenstelling hiermee het die ANC in die Vrystaat 10 persentasiepunte steun verloor, van 61,14% in 2019 na 51,94% vanjaar (teenoor 81,78% in 2004).
Jankielsohn meen Vrystaters het Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat en uitgeskopte sekretaris-generaal van die ANC, wat vanjaar met sy ACT-party aan die verkiesing deelgeneem het, gestraf weens jare van wanbestuur – en ook die ANC wat hom toegelaat het om dit te doen.
Die VF Plus het op Woensdag 5 Junie aangekondig dat Wouter Wessels en Heloïse Denner die party in die nasionale vergadering sal verteenwoordig. Tammy Breedt sal na die NRP gaan en Armand Cloete sal weer sy setel in die provinsiale wetgewer inneem.