Kunstenaars wat verlede jaar op kunstefeeste oor die land uitgeblink het, is Donderdag (09/03) op die 13de kykNET Fiëstas by the Lookout in Kaapstad vereer.
Die wenners in dertien kategorieë is met toekennings vereer. Die skrywer, digter en aktivis dr. Diana Ferrus en die musiek-maestro prof. Hubert van der Spuy is vir hul lewensbydrae tot die kunste vereer.
Suidooster se Jawaahier Petersen en Fraksie se Melt Sieberhagen was die seremoniemeesters en Schalk Joubert, Ramon Alexander en Babalwa Meintjies het die musiekvermaak verskaf.
Die wenners in die onderskeie kategorieë is:
- Beste spel in ’n hoofrol: Sandra Prinsloo vir Die moeder (US Woordfees)
- Beste spel in ’n ondersteunende rol: Carlo Daniels vir Ek, Anna van Wyk (KKNK)
- Beste regie: Christiaan Olwagen vir Die moeder (US Woordfees)
- Beste teaterontwerp: Gideon Lombard vir die klankbaan en ontwerp van Karatara (KKNK, SOF)
- Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling: Adriaan Havenga vir Iewers in die grys (US Woordfees)
- Beste prestasie in klassieke musiek: Handel at Home (US Woordfees, KKNK)
- Beste prestasie in visuele kuns: Pitika Ntuli vir Azibuyele Emasiswene / Terugkeer na die bron (Vrystaat Kunstefees)
- Beste musiekgedrewe produksie: Prima Donna (KKNK)
- Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie: The Ancient Voices (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies) vir Die oerkluts kwyt (KKNK, Suidoosterfees, Aardklop)
- Beste feesproduksie: Die moeder (US Woordfees)
- Beste opkomende kunstenaar: Adriaan Havenga: teks vir Iewers in die grys en sy spel en teks vir Om skoon te wees (Woordfees en KKNK)
- Blou Fiësta: Stemme (Suidoosterfees)
Vir dié produksie het vyftien dramaturge kort, kragtige monoloë in verskeie Suid-Afrikaanse tale geskryf. Die monoloë is deur die Suidoosterfees opgevoer en is daarna verfilm en saam met die tekste op LitNet vrygestel.
“Die bekendes en onbekendes, veterane en nuwelinge wat gehore die afgelope jaar dwarsdeur die land op verhoë geroer en vermaak het, is helde in ons oë,” verduidelik Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale.
“Hulle was die genomineerdes by vanjaar se Fiësta-toekennings. Uit hierdie reeds uitgelese groep het die Fiësta-paneel diegene gekies wat by die afgelope jaar se kunstefeeste die tydsgees presies reg gelees het en besondere werk kon skep.
“Ons sê baie geluk aan vanjaar se wenners, vir wie ons hoop die toekenning ’n spesiale oomblik in hul loopbane sal wees. Tog bly selfs ’n gesogte Fiësta-trofee die tweede prys – die eerste prys is altyd die waardering van die publiek.”
Van die bekendes wat Fiësta-toekennings oorhandig het, was Dawid Minaar, Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Irshaad Ally en Nicola Hanekom.
Die toekennings is nie vanjaar regstreeks uitgesaai nie, maar Fiësta se program op 24 Maart sal aan die glans-aand gewy word en ’n insetsel van die aand sal op Bravo! op 26 Maart gewys word.