Ná ’n slegte besering twee jaar gelede, is die Bloemfonteinse danser Lélani Theron (18) se mikpunt om onder die top drie te wees in vanjaar se World Freestyle-kampioenskap op die Blackpool-dansfees op 24 en 25 Junie in Engeland.

Dié dansfees is vir Lélani die eerste tree om haar lewe aan dans te wy.

Sy dans al van die ouderdom van agt jaar, en sedert tienjarige ouderdom mededingend.

Sy het in 2021 ’n erge terugslag gekry toe sy al die ligamente in haar een knie skeur. Daar is vir haar gesê dat sy nie weer sou dans nie.

Sy het egter deurgedruk en ná ses maande weer begin oefen. Agt maande ná die operasie, in Mei 2022, het sy weer aan ’n kompetisie deelgeneem.

Sedertdien het sy so goed gedans dat sy vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer het.

“Die afgelope jaar was beslis die mees uitdagende, maar die jaar waarin ek die meeste plesier uit my dans gekry het. Ongeag hoe moeilik dit was, ek het bly fokus op my doel om vir die kampioenskap te kwalifiseer.”

Sy is nou vierde op die Suid-Afrikaanse ranglys en gaan Suid-Afrika verteenwoordig in die vroue o.18-Premier Champs-afdeling.

Haar afrigter, Manulani Cohan van die Dance Domination-dansateljee in Langenhovenpark, sê Lélani kan maklik enige genre dans.

“Sy is baie toegewyd en werk hard vir dit wat sy wil hê.”

Lélani sê sy wil nog ’n hele paar jaar aan danskompetisies deelneem, maar droom daarvan om eendag haar eie dansateljee te hê.

Van haar grootste prestasies is dat sy ses keer die provinsiale kampioen was en dat sy gekies is om deel te neem in die Acro-beurskompetisie, waar sy vyfde in Suid-Afrika was.

Sy was vyf keer Suid-Afrikaanse kampioen, drie keer naaswenner en twee keer algeheel derde.

“Dans is my passie en ek kan my lewe nie sonder dans voorstel nie. Dans voed my siel en ek is mal daaroor om nuwe en opwindende bewegings te leer en voortdurend my liggaam sterker te maak,” sê dié toegewyde danser.

Lélani het begin met ’n Back-a-Buddy-projek om geld in te samel vir die reis na Blackpool. Kry meer inligting daaroor op haar Facebook-blad Lelani Theron.

You need to be Logged In to leave a comment.