Die vroue van Die Dameskring het weer vanjaar koning gekraai op die Oranje-Rapportryers se kultuurvasvra wat op Donderdag 19 September by Grey-kollege (primêr) aangebied is.
Die vasvra, wat voortaan die Jan Lambrecht-gedenkvasvra sal heet, was nie net ’n geleentheid om hulde te bring aan wyle Jan Lambrecht wat vir jare dié vasvra gereël het nie.
Prof. Barry Frey, sekretaris van die Oranje-Rapportryers wat nog tot die oggend voor die vasvra daaraan gewerk het, is later die oggend onverwags oorlede.
Danie Odendaal, voorsitter van die Oranje-Rapportryers sê dit was vir almal ’n groot skok. Hulle het besluit om voort te gaan met die vasvra-geleentheid.
“Oom Barry en sy vrou, Magda, het die hele aand gereël. Ons het op die geleentheid ’n huldeblyk aan hom gebring.”
Benewens Die Dameskring, was daar sewe ander spanne wat deelgeneem het: Vriende van die Oorlogsmuseum, die Van Riebeeck-Volkspele-laer, die Ou Presidensie- Historiese Vereniging, die VF Plus, VF Plus-jeug, Oranje-Rapportryers en Pres. Steyn Voortrekkers. Dit was vanjaar die 30ste keer waarop die vasvra aangebied is.