Wenspanne dink sodat hul nie sink

Die meisies van die Hoër Meisieskool Oranje het die topplek weggeraap voor ander skole in AfriForum se Dink of sink onvoorbereide debatskompetisie.


Die meisies van die Hoër Meisieskool Oranje het die topplek weggeraap voor ander skole in AfriForum se Dink of sink onvoorbereide debatskompetisie.

Die sentraalstreeksuitdun van die kompetisie Donderdag (24/08) by Oranje het naelbyt-eindstryde in die senior en junior afdelings opgelewer.

Dit was die vyfde en laaste streeksuitdun in vanjaar se kompetisie.

In die senior kategorie was Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter van Oranje se span #Een(d) die wenners, met Alex Bezuidenhout, Carlise Botha en Marlé van der Merwe van Hoërskool Jim Fouché se span Die JF-raakpraters in die tweede plek.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerlinge het Die Raakpraters-span se Juliette Schoeman, Marciné Kearney en Mia Lindhout as wenners uit die stryd getree. Die Sterskieters-span se Anabelle Laubscher, Marlene du Plessis en Elri Cloete (ook van Oranje) was die naaswenners.

Die junior wenspan was Die Raakpraters van die Hoër Meisieskool Oranje. Hulle is van links Juliette Schoeman, Marciné Kearney en Mia Lindhout.

Vanjaar se kompetisie is goed ondersteun met 10 spanne wat in die junior afdeling deelgeneem het en 18 in die senior afdeling. Die skole wat deelgeneem het, was Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, Hoërskool Reitz, Hoërskool Witteberg, Eunice High School, Grey-kollege (sekondêr), Hoërskool Jim Fouché, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Sentraal en Hoër Meisieskool Oranje. Die spanne het oorspronklike name gekies, byvoorbeeld Gladdebek Gawies, KletsKalante, Trotse Trekkers en Die Aanvallende Anties.

AfriForum is deur Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het namens AfriForum dank teenoor al die deelnemers, asook Oranje oorgedra vir hulle entoesiastiese deelname en Oranje se puik aanbieding en gasvryheid.

Die senior naaswenners was Die JF-raakpraters van die Hoërskool Jim Fouché. Hulle is van links Die JF-raakpraters se Alex Bezuidenhout, Carlise Botha en Marlé van der Merwe.

“Al die uitdunne deur die dag, asook die finale, is gekenmerk deur enkele punte en soms selfs breukdele van punte wat die spanne skei. Daar was debatte van die hoogste gehalte en ons sien nou net nóg meer na die nasionale finaal uit,” sê Bailey.

“Debat is ’n kernvaardigheid wat leerlinge deur hulle skoolloopbaan, universiteitstudies en in enige werksomgewing bemagtig. Die Vrystaatse leerlinge het beslis die kaf van die koring geskei deur hul sê te sê. Dit is wonderlik om te sien hoe die kompetisie elke jaar groei en dit is vir AfriForum ’n groot eer om te kan help bou aan die toekoms van ons jong Suid-Afrikaners,” voeg Müller by.

Die junior naaswenners was Die Sterskieters van die Hoër Meisieskool Oranje. Hulle is van links Anabelle Laubscher, Marlene du Plessis en Elri Cloete.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.