Wêreld helder ná katarak-blitz

’n Pensioentrekker van Bloemfontein is verheug om weer te sien en te kan voortgaan om sy stokperdjies te beoefen.


’n Pensioentrekker van Bloemfontein is verheug om weer te sien en te kan voortgaan om sy stokperdjies te beoefen.

Oom Johannes Fischer (78) was een van 14 pasiënte wat as deel van die Cure-daghospitaal in Bloemfontein se katarak-blitz ’n gratis katarak-operasie ondergaan het.

Dr. Wayne Marais, hoof van die departement oftalmologie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en wat ook ’n praktyk by dié daghospitaal het, het Maandag (31/10) saam met ’n span medici die operasies uitgevoer.

“Ek sien nou so goed, dit voel my ek kan dwarsdeur die berg hier by my plasie sien,” vertel oom Johannes wat by Ferreira boer, ’n dag na die operasie.

“Die operasies maak ’n reuse-verskil en ek is regtig baie dankbaar vir dr. Wayne en sy span.”

Oom Johannes se linkeroog wat net sowat 20% visie gehad het, is tydens ’n operasie op 19 Oktober geopereer.

“Die siekefonds het net vir een katarak-operasie betaal en dr. Wayne het gesê dit is beter dat altwee oë so gou moontlik ná mekaar gedoen word. Ek is so dankbaar dat hulle hierdie tweede operasie moontlik gemaak het.”

Oom Johannes sê sy oë gaan al vir baie jare agteruit en dit was veral die laaste vyf jaar wat hy gesukkel het om die handwerk te doen waarvoor hy so lief is.

“Ek maak graag potte vir plante en ander houtwerk. My swak sig het dit byna onmoontlik gemaak om alles te doen wat ek graag wil. Nou kan ek weer begin. Dit is vir my lekker om besig te bly,” vertel hy.

Die 14 operasies wat Maandag tydens die blitz uitgevoer is, was gemik op mense in die gemeenskap wat dié prosedures nie andersins sou kon bekostig nie of lank daarvoor sou moes wag.

Drs. Shelly Barrett en Niel van Wyk van Cure-daghospitaal het aangebied om saam met Marais gratis die operasies uit te voer.

Hulle is bygestaan deur prof. Edwin Turton, departementshoof van narkose aan die UV, asook drs. Gillian Saffy en Marnus Booyens wat ook aan dié departement verbonde is, het die narkose tydens die operasies behartig.

Cure-daghospitaal het aan die medici gratis toegang tot die teaters, toerusting en mediese voorraad gegee.

Eye Pharma het bygedra tot die lense wat tydens die operasies gebruik is.

Christi Malan, woordvoerder vir Cure-daghospitaal in Bloemfontein, sê blindheid wat deur katarakte veroorsaak word, is onnodig en kan reggestel word.

“ ’n Katarak-operasie is ’n klein prosedure wat vinnig gedoen kan word. Pasiënte word nog dieselfde dag ontslaan en moet kort daarna weer die oftalmoloog sien.”

Die Cure-daghospitaalgroep wat bestaan uit 10 hospitale oor die land heen, het al meer as 1 100 kinders en volwassenes bygestaan met ’n verskeidenheid gratis prosedures. Die groep werk saam met liefdadigheidsorganisasies soos die Blissful Cleft-stigting, Operation Healing Hands, Smile of Joy en Right to Sight om enkeles te noem.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.