Alex val Dinsdae in om tuinwerk te doen.

Wanneer die hek oopgaan, is dit ’n hele dans-en-speel ritueel met die honde tot by die Wendy-huis waar hy sy tuinklere aantrek.

Alex werk nog nie lank by ons nie, maar in die kort tydjie was daar heelwat lief en leed. Daar was die rou trane toe hy vertel dat hulle by die staats­hospitaal niks vir sy kind kon doen nie. Die kleuter se foto op Alex se goedkoop selfoon. Hy het vir ’n ou fotoraam in die motorhuis gevra. Ons het die selfoonfoto uitgedruk. ’n Skrale troos.

Een middag op pad om Alex by die taxi af te laai, staan ’n vrou geboë by ’n verkeerslig waar blomme ’n ongelukstoneel herdenk. Ek onthou die nuus oor die ongeluk in die koerant.

“Ek dink dis die kind wat oorlede is se ma,” merk ek op.

Langs my is Alex in trane.

“As mens se kind weg is, soek jy altyd nog daai kind. Ek kyk nou nog om, want ek hoor daai kleintjie van my. As ek omkyk, is daar niks.”

Toe ons verlede jaar herstelwerk aan die huis doen, vra Alex vir die ou vensterrame. Ons reël ’n sleepwa. Ek sien waar Alex bly. Doer – aan die anderkant van die Township. Daar waar water of elektrisiteit nie eens ’n pypdroom is nie.

Langs die aanmekaargeflansde sinkplaatgeboutjie het Alex ’n tuintjie aangelê. Hy kweek marog en ’n bietjie groente. Hier en daar ’n vetplantjie. Alex is mal oor blomme en tuinmaak. Hy wys trots waar hy die vensterrame gaan gebruik om sy huis te versterk. Hy lag oor die feit dat daar geen elektrisiteit is nie.

“Nou worryek mos nie oor load sheddingnie.”

Hoe meer ek die wêreld deur Alex se oë sien, hoe meer gaan my oë oop.

Op ’n yskoue Saterdagoggend ry Alex saam met my na die Langenhovenmark toe. Reeds toe ons afklim, rek sy oë wyd.

“Lekker musiek,” is sy eerste kommentaar. Dan: “Jumping Castle.”

Ek sien sy gesigsuitdrukking verander. Ek onthou daardie kind op die foto wat nooit ’n “jumping castle” gaan beleef nie.

Ons koop pannekoek om huis toe te neem vir my mense, maar eers eet ons elkeen een omdat dit nog lekker warm is. En omdat dit soos boeremark ruik, moet ’n mens dit mos op die boeremark proe.

Ek het nooit besef hoe vinnig ek deur die boeremark stap nie. Saam met Alex is dit anders. Hy stap soos trapsuutjies. Verkyk hom aan alles. Kos, T-hemde, mense. By een van die stalletjies kom hy tot stilstand.

“Sjô!” Sy opgewondenheid oor sy hele gesig geskryf.

Daar is vetplantjies in bekers en houers. Alex tel van hulle op, kyk na die plantjies.

“Hulle’s mooi.”

Terug in die motor wil ek weet wat hy van die boeremark dink.

“Ek wil ook so boeremark hou. Daar naby my huis. Daar is baie mense. Hulle kan almal iets kom verkoop.”

Hy kyk in die truspieëltjie.

“En ek – ek kan my groente en blomme verkoop. En ons sal almal gelukkig wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.