’n Jong gimnas van die Helena Botha-gimnastiekklub in Bloemfontein is op pad om internasionaal te gaan deelneem.
Kaylah Meyer (11), ’n leerling aan die Laerskool Universitas, vertrek binnekort saam met haar afrigter, Leandri Bezuidenhout, na Engeland om aan die trampolien-wêreldouderdomsgroep-kampioenskap deel te neem.
Die kompetisie duur van 16 tot 19 November in Birmingham, Engeland.
Kaylah doen al sedert vierjarige ouderdom gimnastiek. Aanvanklik het sy net artistiese gimnastiek gedoen, maar op sewejarige ouderdom ook met mini-trampolien begin.
Sy neem in die kampioenskap vir juniors van 11- en 12 jaar in die dubbelmini-trampolien-afdeling deel.
Om te kwalifiseer, moes Kaylah aan twee nasionale proewe deelneem – een in Maart in Pretoria en in Julie in Port Elizabeth.
Daar is net drie gimnaste in dié ouderdomsgroep uit Suid-Afrika wat vir die kampioenskap in Engeland kwalifiseer het. Twee van hulle is uit die Vrystaat, waarvan net Kaylah ’n Bloemfonteiner is.
Kaylah sê sy sien baie uit na die kampioenskap en om daar te gaan deelneem. Dit sal haar eerste internasionale deelname wees.