Die Vrystaat-streek van Solidariteit Helpende Hand het op Vrydag 1 November ’n projek aangepak waar hulle ’n wêreldrekord nagejaag het om die meeste kosblikkies op mekaar te pak.
Die publiek is genooi om ’n kosblikkie teen R100 te borg en dit dan op die stapel kosblikke in die vorm van ’n hand te pak.
Die kosblikkies is deur die netwerkgroep DNB gekoop.
Uiteindelik was daar 1 295 kosblikkies, wat deel van die hand gevorm het met 600, wat deur lede van die publiek geborg is.
Kobus Venter, streeksbestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-tak, sê die projek vorm deel van die nasionale #StopHonger-projek en die Kosblikkie-projek waar sowat 8 000 kinders landswyd, 1 000 in die Vrystaat en 300 in Bloemfontein alleen daagliks ’n bord kos ontvang.
“Die projek is daarop gemik om seker te maak dat kleuters daagliks ‘n voedsame bord kos ontvang. Die hooffokus van die projek is om behoeftige kleuterskole met die voeding van kleuters te ondersteun. Kleuters word danksy die voedingsprojek as fisiek sterker bestempel. Hul groot en klein motoriese vaardighede asook hulle intellektuele en emosionele ontwikkeling baat by die voedsame maaltyd. Dit beteken dat hulle gehoorsamer is, hulle take makliker kan verrig en dat hulle selfvertroue verbeter.”