Skuts van oor die wêreld heen het op 1 April buite Bloemfontein aan die wêreldkampioenskap in langafstand-skiet deelgeneem, toe Suid-Afrika bewys het sy skuts weet hoe om kolskoot te skiet en die beker in die F-TR-klas gewen het.
Henk Venter van Pretoria, kaptein van dié span van 16 skuts van Gauteng, die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en die Wes-Kaap, sê toe hulle besef hulle is die wenners van die wêreldbeker was daar ’n “ongelooflike gevoel van blydskap asook dankbaarheid tussen die manne”.
Die Proteas se F-TR-span (teiken-geweer) het ’n nuwe rekordtelling opgestel van 3 518-305 – ’n volle 106 punte meer as die vorige rekord om goud te wen.
Amerika, wat die vorige drie keer die kampioen was, het silwer verower met 86 punte meer as Brittanje, wat brons gekry het.
In die F- ope afdeling het die Proteaspan silwer behaal met Amerika wat goud gewen het en met die wêreldbeker in dié klas weggestap het. Venter sê dit was twee jaar se harde werk en voorbereiding wat tot die sukses van ’n goue medalje gelei het.
Op elke afstand was hulle kalm, gefokus en vasbeslote. Die kampioenskap, wat aangebied is deur die internasionale konfederasie van grootkaliber- geweer-verenigings (ICFRA), word elke vier jaar gehou en is in 2017 in Kanada gehou en in 2013 in Raton, Amerika.
Vanjaar is die kampioenskap by die De Brug-langafstand-skietbaan buite Bloemfontein gehou nadat dit weens Covid-19 nie in 2021 aangebied kon word nie.
Hermann Rolfes, ’n sakeman van Pretoria, is aangewys as die F-TR-wêreldkampioen en Bernard Engelbrecht, ’n sakeman van Upington, het goud gekry in die F- ope afdeling.
Rolfes sê as ’n mens so lank voorberei met ’n droom in die oog, veral met dié dat dit in 2021 nie kon plaasvind nie, is dit absolute vreugde om te beleef hoe dit uiteindelik waar word. Die volgende wêreldkampioenskap is in Engeland in 2026, steeds uit die gebruiklike vierjaarritme in die nadraai van Covid-19.
Engelbrecht het in 2018 by die sportsoort betrokke geraak.
“Oom Francois du Plessis van Upington het my aan dié sportsoort bekend gestel. Daarna het ek elke Woensdag afgevat, die 120 km gery na oom Francois se plaas en lekker geoefen.”
Hy het nog altyd die liefde vir skiet gehad en het as “klein mannetjie” begin en boksies windbukspatrone uitgeskiet.
Tiana Deetlefs, ’n lid van die Bloemfontein Militêre Bisley-klub, sê die plaaslike Vrystaat-span, Eagle Eye, het ’n bronsmedalje in die Suid-Afrikaanse Ope gewen, wat in die twee weke in aanloop tot die wêreldkampioenskap gehou is, ook op die De Brug-skietbaan by Bloemfontein.
Dié viermanspan het op die wêreldbeker-kampioenskap teen internasionale viermanspanne deelgeneem. Rolfes het Vrydag en Saterdag skoonskip gemaak met volpunte in die 700 m- en 800 m-klas en 74 uit 75 in die 900 m-klas.
– Cheréne Pienaar