Die doel van ’n uitstalling oor die gruweldade teenoor vroue in die Suid-Afrikaanse Oorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) van 1899 tot 1902 is om ’n gesprek aan die gang te sit oor die nuwe oorlog waarin vroue gewikkel is, dié van gesins- en geslagsgeweld.
Dit is een van twee redes waarom “Never-ending Secrets and Untold Stories: The Embodiment of Women in War” tans in die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein te sien is.
Die ander rede was as verlengstuk van ’n hibriede internasionale konferensie wat einde verlede jaar in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein aangebied is.
Die titel van die konferensie was “The Unsung Heroines and Youth of South Africa, Violent Histories and Experiences of South African Women and Children During Wars, Conflicts and Pandemics”.
Vir die visuele uitstalling is werke uit die permanente versamelings van Oliewenhuis, die Oorlogsmuseum en die Artbank South Africa gekeur.
Temas van vroue se trauma, lyding, moed en oorlewing in die Suid-Afrikaanse Oorlog word verken en haak aan by die huidige oorlog van geslagsgeweld waaronder vroue gebuk gaan.
Volgens Ester le Roux, kurator van Oliewenhuis, is die doel met die aanbieding allermins om net weer die wrede gebeure van die verlede op te rakel.
Die oorlogsdade is bedoel “om lig te werp op die huidige narratief”, oftewel, die oorlog van geslagsgeweld waaronder vroue in die jongste tye gebuk gaan.
Volgens Le Roux word die noodroep van vroue en kinders wat in die oorlogtyd geïgnoreer is, gejukstaponeer met die innerlike krag van vroue in die verlede en in die hede.
“Hopelik sal die uitbeelding ’n sterk genoeg indruk op besoekers maak dat dit tot gesprekke met insiggewende oplossing sal lei.
- “Want ongelukkig het wreedhede teenoor vroue nog nie verdwyn nie, dit vind nou net onder opskrifte van geslagsgeweld, ras, seksualiteit en onderdrukking plaas.” Die uitstalling is in Oliewenhuis se anneks en kan nog tot Sondag 26 Februarie besigtig word.
Die kunsmuseum met ’n wye versameling kunswerke, is elke dag van die week oop.
Temas van vroue se trauma, lyding, moed en oorlewing in die
Suid-Afrikaanse Oorlog
word verken.