Al die personeel van Clover Bloemfontein in Harveyweg is vir Covid-19 getoets nadat een van hulle positief vir die virus getoets is.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, het vandag (29/04) in ’n nuusverklaring gesê die werknemer het op 22 April na die Botshabelo-hospitaal gegaan en is daarna getoets omdat hy Covid-19-simptome getoon het. Hy is positief getoets.
Die departement het daarna 18 mense – wat sy huishouding en mense wat daagliks saam met hom reis, insluit – vir die virus getoets. Almal het negatief getoets. Dit sluit sy vrou en kinders asook almal wat saam met hom tussen Botchabelo en Bloemfontein reis in.
Dié groep word sedert 22 April vir veiligheid in kwarantyn by die Philip Sanders-oord gehuisves.
Mvambi sê die 369 werknemers van Clover Bloemfontein is van Donderdag (23/04) tot Saterdag (25/04) getoets en Clover is tydelik gesluit in afwagting op die uitslae. Die perseel is ook ontsmet.
“Die departement waardeer Clover se samewerking om sy perseel oop te stel en sy werkers te laat toets,” sê Mvambi.
Hy sê dit is belangrik dat mense wat in kontak was met mense wat positief vir die virus getoets is, of vermoed dat hulle in kontak was met iemand wat positief getoets is, hulle so gou as moontlik by ’n siftings- en toetsingsgerief laat toets.