Klink ’n glasie op agtste bestaansjaar. Die personeel is van links, voor: Livelle Petersen, Aya Pikelela, Nthabiseng Olifant en Gloria Oersen

Die personeel van Angel Hearts het Maandag (13/03) dié werkswinkel vir mense met gestremdhede se agtste bestaansjaar met koek en “Coke floats” gevier.

Karen Kemp het dié nie-winsgewende onder­neming in Leviseurstraat, Westdene, waar personeel ’n groot verskeidenheid handwerkprodukte maak, in 2015 gestig.

Sedertdien het die werksruimtes en uitstallokale uitgebrei om die pragtige handgemaakte items aan die publiek te vertoon.

Kemp sê sowat 60% van alles wat in die winkel verkoop word, word deur die personeel self gemaak.

Een van die nuutste personeellede is Livelle Petersen.

Sy leer heeltyd nuwe vaardighede aan, soos om met krale te werk.

Kemp sê daar is altyd geskenkies, maar hulle maak ook deurentyd iets vir die volgende geleentheid op die kalender, soos Paasfees-geskenke wat nou daar te koop is.

Angel Hearts bied op Saterdag 1 April ’n spesiale werksessie vir kinders met gestremdhede aan.

“Kinders wat met hul hande kan werk, kan saam met ons kom Paaseier-koekies versier,” nooi Kemp.

Die werksessie is van 09:00 tot 11:00 en dit kos R150.

Rig navrae by haar by 082-871-3121.

You need to be Logged In to leave a comment.