Die gesogte Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks het die naweek van 15 Maart met die eerste ronde tussen die agt deelnemende skole in die Vrystaat en Noord-Kaap begin.

Hannes Oosthuizen, skoolhoof van die Hoërskool Witteberg en direksielid, sê nie net was ondersteuners en sportgeesdriftiges uitgehonger vir aksie nie, maar skole het ook met opgewondenheid uitgesien na die begin van die wintersportseisoen.

Wesgrow is die amptelike naamborg van die reeks saam met die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media Gemeenskapsnuus wat die gemeenskapskoerante BloemNuus, Vista, VrystaatKroon en NoordkaapBulletin insluit.

Oosthuizen sê dit is vir die direksie en deelnemende skole aangenaam om VKB en Edutrace as mede-borge vanaf die 2025-seisoen te verwelkom.

“Dit lei ‘n nuwe era in vir skolesport in ons streek,” sê Oosthuizen.

Die samewerkingsooreenkoms met die nuwe borge sluit ook planne in om die reeks verder uit te brei en selfs ‘n onderliggende reeks op dieselfde formaat te begin waarby ander skole betrek kan word.

Massa-deelname en gesonde mededinging bly die riglyn waarop die reeks ontwikkel is en alle deelnemende skole word gebind tot ‘n etiese kode vir deelname en is verplig om ‘n sekere minimum aantal spanne per kode in te skryf.

Die aantal spanne het ook sedert die begin van die reeks gegroei en is ‘n aanduiding dat die betrokke skole elke jaar daarin slaag om meer leerlinge die geleentheid tot deelname te bied.

Die afgelope naweek het die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gasheer gespeel vir die Hoërskool Witteberg terwyl die Bethlehem Voortrekker Hoërskool, die 2024 algehele titelhouer in die reeks, kragte gemeet het in Bethlehem teen die Hoërskool Sentraal.

Die Hoërskool Jim Fouché het na Kroonstad gereis om teen die Hoërskool Trio kragte te meet. Die Hoërskool Fichardtpark het weer in Bloemfontein reg gestaan om mee te ding teen die Hoërskool Goudveld van Welkom.

Die nuwe seisoen gaan beslis weer vele hoogtepunte en ‘n paar verrassings verskaf.

Die reeks word op ‘n enkelronde formaat beslis. Dit beteken dat elke bepaling, in elke ouderdomsgroep van uiterste belang is om skole se finale plekplasing aan die einde van die seisoen te bepaal. Die algehele wenner van die reeks word bepaal nadat alle wedstryde in alle kodes afgehandel is.

Die reeks behou ook sy verbintenis met SuperSport wat danksy sy SuperSport Schools-platform wedstryde aanlyn sal uitsaai. Dit maak dit moontlik dat die reeks wat oor drie provinsies strek verdere blootstelling aan alle belanghebbendes gee. Die reeks se sukses is ook te danke aan elke ouer en leerling wat naweek ná naweek die betrokke skole ondersteun.

“Ons sien uit daarna om weer hierdie jaar gesonde skolesport te beleef en wonderlike talent te aanskou,” sê Oosthuizen.

Die reeks word ná die skoolvakansie op 12 April voortgesit.

You need to be Logged In to leave a comment.