Met die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks-wedstryde Saterdag 20 April tussen die Hoërskool Fichardtpark en die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, het Fichies drie van die eerstespan-wedstryde gewen.
By die seuns en meisieshokkiespanne het Fichies redelik gemaklik gewen. Twee van die skool se doel-vrate het veral dié uitslae bepaal.
Lana van Deventer het al drie doele vir Fichies aangeteken in hul 3 – 1 oorwinning vir die eerste meisiespan, terwyl Alwyn Janeke dieselfde vermag het in hul oorwinning van 3 – 0 in die eerste seunshokkiewedstryd.
Fichies se eerste netbalspan het sy beseerde kaptein Amone Coetzee gemis. Dit was duidelik met die telling van 26 – 18 in Sentraal se guns.
Die hoogtepunt van die dag was Fichies se eerste rugbyspan se oorwinning van 27 – 7 oor Sentraal se eerstespan. Van die begin van die wedstryd was dit duidelik dat die Tralies se afrigtingspan van Gerhard Venter en Hendré Fourie hul huiswerk gedoen het om Fichies se gevaarlike voorry te neutraliseer.
Fichies het steeds te veel skietgoed gehad en het die wedstryd gemaklik gewen.
Ook Fichardtpark se o.19B-rugbyspan, o.19C-span en o.16A-span het met oorwinnings gevier.
In netbal het Sentraal oorheers, met die o.19D-netbalspan wat aan Fichardtpark ’n oorwinning besorg het.
In die ander been van die Wesgrow-reeks wat Saterdag in Bloemfontein beslis is, het die Hoërskool Jim Fouché die netbal oorheers. Die eerste span het met 47 – 37 geseëvier en die tweede span het met 28 – 14 gewen terwyl ook die o.16B- en o.16C-spanne gewen het.
Die o.15A-rugbyspan het gewys dat dié span ’n blink toekoms het met hul oorwinning van 22 – 19 teen Diamantveld.
Nog ’n wedstryd waar daar groot opwinding was vir die ondersteuners van JF, was die o.16A-meisieshokkiespan wat Diamantveld met ’n stewige 5 – 0 gewen het.
Chenique Erasmus het met briljante spel ’n goeie bydra gelewer om dié oorwinning te verseker.
Die meisies se eerste hokkiespan moes met ’n telling van 2 – 1 in die guns van Diamantveld tevrede wees, maar die o.18B-span (1 – 0) en o.16B-span (2 – 0) het hul wedstryde gewen.
JF se seuns-hokkiespanne het uitgeblink deur al drie wedstryde te wen. Die eerste span het 1 – 0 gewen, die o.18B-span 8 – 3 en die o.16A-span het met 5 – 2 gewen.
Die volledige uitslae van die wedstryde tussen Jim Fouché en Diamantveld asook dié van Fichardtpark teen Sentraal, is op BloemNuus se Facebook-blad beskikbaar.