Sowat 47 ondernemings in Westdene is reeds lid van die Westdene-woonbuurtvereniging, wat ingryp om dié sake-kern en woonbuurt netjies en veilig te hou.
Henry Symington, voorsitter van die vereniging, sê daar word reeds heelwat gedoen om die sake-gedeelte netjies te hou.
“Ons het ’n ooreenkoms met Anchor of Hope om die sypaadjies skoon te hou en die gras in die parkie in Brillstraat te sny,” sê hy.
Die doel van dié vereniging is om die gemeenskaplike belange van ondernemings, eiendoms-eienaars en inwoners te bevorder, om die omgewing en openbare ruimtes netjies te hou en om daartoe by te dra om misdaad hier te beperk.
Symington sê die vereniging sal ook lede verteenwoordig wat betref klagtes oor munisipale dienslewering en die toepas van regulasies.
Een van die projekte wat die vereniging nou begin, is die opvul van slaggate in Westdene.
“Ons samel nou geld in om teer te koop en gaan reël dat die gate behoorlik gevul word.”
Dit is veral in strate soos Tweedelaan, met erge slaggate op die kruising met Pres. Reitzlaan, waar slaggate by die dag al hoe dieper word.
Volgens ’n vorige sensus is daar ongeveer 4 117 eiendomme in Westdene.
“Ons fokus is vir nou eers op die sake-deel van die buurt. Dit is belangrik dat soveel moontlik eienaars van persele en ondernemings wat hier geleë is, deel word van die vereniging.
“Hoe meer ondernemings lid word, hoe meer sal ons vir die buurt kan doen.”
Ondernemings wat hulle by die vereniging wil aansluit, kan navrae aan Symington rig deur ’n e-pos na info@westdene.net te stuur.