Drie ongelukke in een oggend in Curielaan is een van die talle voorbeelde van motorongelukke in die stad wat buite beheer geraak het.
Dié drie ongelukke is op Vrydag 29 Augustus deur ER24 in Bloemfontein aangemeld.

VR Med het in Augustus 23 ongelukstonele in Curielaan, OR Tambostraat, Bayswater en natuurlik op die N1 en N8 aangedoen.
Pieter du Plessis, woordvoerder van VR Med, sê die oorsaak van ongelukke is veelvuldig.
“Spoed is ‘n groot faktor,” sê hy. “Daar is ook baie mense wat op hul selfoon praat, of selfs tik, terwyl hulle bestuur.”
Hy sê Vrydagoggend voor werk, op pad van Langenhovenpark na die Laerskool Universitas, het hy 35 mense waargeneem wat met hul selfone doenig was terwyl hulle bestuur het.

Hy meen die ander groot oorsaak van ongelukke is mense wat rooi verkeersligte ignoreer, of wegtrek voordat verkeersligte van rooi na groen oorslaan.
“Talle bestuurders in die stad hou glad nie by verkeersreëls nie,” sê hy.
Noodwerkers sê baie ongelukke gebeur saans, en daar is beslis alkohol betrokke by baie van dié ongelukke.
Personeel van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Langenhovenpark is in Augustus na 107 tonele ontbied.
Hoewel die stad se direktoraat vir veiligheid en vervoer wys dat talle verkeersboetes in Julie uitgeskryf is, is dit ‘n druppel aan die emmer van die omvang van oortredings wat daagliks deur motoriste begaan word.
Volgens ‘n verslag van die Mangaung-metro se seksie 80-komitee is 3 518 boetes, wat R2,5 miljoen beloop, in Julie uitgeskryf. In dié tyd is 366 motors gekonfiskeer weens die oortreding van parkeerreëls, en 30 bloedtoetse vir die toets van dronkbestuur is geneem.
Van dié boetes is net 558, wat R525 050 beloop, betaal.
Die metro het in Julie nuwe roterende spoedkameras in gebruik geneem, maar min van dié kameras is nog in gebruik gesien.
Dit is die verantwoordelikheid van die metro se wetstoepassings-afdeling om toe te sien dat verkeerswette en munisipale reëls toegepas word. Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê die metro beplan om op 9 en 10 Oktober ‘n veiligheidsberaad aan te bied.
■ Lees die storie oor Lara Rossouw se ervarng wat sy op Facebook geskryf het nadat sy op ‘n ongelukstoneel afgekom het en daarna raad by kenners gekry het oor wat om te doen as dit met jou gebeur, of jy self in ‘n ongeluk is.





