Wiele rol nou weer glad oor die pad in Langenhovenpark

Slaggate in Langenhovenpark is met die hulp van BMW-Bloemfontein en ander ondernemings in dié woonbuurt, gevul.


’n Hele paar slegte slaggate in Langenhovenpark is met die hulp van BMW-Bloemfontein en ander vennote wat talle ondernemings in dié woonbuurt insluit, gevul.

“Ons gee om vir Bloemfontein se gemeenskap en doen nou talle projekte om die stad beter te maak,” sê Rohan Makaum, handelaarshoof van BMW-Bloemfontein.

Verskeie van die personeel het verlede jaar in Oktober en November begin om slaggate reg te maak. Die eerste gate wat gevul was, was in Jan Spiesstraat.

In Desember en Januarie het ook CP Hoogenhoutstraat gevolg.

Die laaste vyf slaggate is ook onlangs in CP Hoogenhoutstraat gevul. Hulle het nou reeds 12 slaggate in Langenhovenpark reg gemaak.

Ezel de Beer, kliëntediensbestuurder en bemarkingsbestuurder van BMW-Bloemfontein, sê hulle beplan om nou ook die erge slaggate naby Spar en naby Checkers reg te maak.

“Amelia-vrouekoshuis in Groenewoudstraat in Universitas het ons genader om slaggate daar te kom herstel en ons beplan om binnekort daarmee te begin.”

De Beer sê hulle maak gebruik van Permanent Pothole Solutions se mengsel om die slaggate te vul.

“Ons gebruik so drie sakkies op ’n gat van ongeveer 35 cm x 35 cm. Die slaggate wat ons sedert Oktober reggemaak het, het nog nie een weer gevorm nie.”

Sy sê BMW-Bloemfontein werk ook nou aan ’n projek om Nelson Mandelarylaan skoon en netjies te hou.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.