’n Flukse man werk nou hard daaraan om die Rooidam tussen Lourierpark en die Ferreira-hoewegebied in Bloemfontein weer die hengelbestemming te maak wat dit eens was.
Louis Ferguson van Carp Tactical het nou ’n nie-winsgewende organisasie gestig om geld in te samel om dié dam van die indringer-hiasinte skoon te maak.
Skenkers het al na vore gekom om die Karpvereniging van Bloemfontein te ondersteun om ’n deel van die dam skoon te maak sodat daar weer gehengel kan word.
Die afgelope twee weke is hy en twee van sy werkers kliphard aan die hiasinte ophark en het al tonne van dié plante op die oewer bymekaargemaak.
“Ongeveer agt jaar gelede kon ’n mens op ’n Saterdag skaars plek kry langs dié dam soos die mense hier gehengel het,” sê Ferguson. “Met al die reën die afgelope tyd, het die hiasinte die hele dam toegegroei. Ons wil dit graag weer toeganklik maak vir hengelaars en hul gesinne.”
Hy sê benewens die indringerplante op die water, is een van die ander groot probleme die talle mense wat hier by die dam en op pad na die dam van die Ferreira-pad se kant af, sakke vol rommel afgooi. Hy sê in een dag het hy al vier mense verjaag wat hier kom rommel strooi het.
Die probleem is die Verenigingrylaanbrug is steeds gesluit en inwoners moet ’n draai ry om hul vullis by die suidelike stortingsterrein te gaan stort. Talle mense ry eenvoudig hier na die oop terrein by die dam en stort hul vullis daar.
David Mc Kay, DA-wykdsraadslid, sê Ferguson is ’n man met ’n plan. “Terwyl die res van Mangaung wankel onder gebrek aan dienslewering en geldelike beperkings, is daar ligbakens in die vorm van gemeenskapshelde wat ons hoop gee dat die toekoms blink kan wees as ons saamstaan.”
Mc Kay sê hulle is nou in die finale proses om ’n ooreenkoms met die metro te onderteken sodat die vereniging die park aanneem.
“Ons glo dat ’n skoon en ongerepte omgewing onnodige gesonheidskwessies sal uitskakel, wat deur besoedeling in die water en die onwettige storting veroorsaak word,” sê Mc Kay. Hy sê as die riviermonding gerehabiliteer is en die omgewing skoon is, sal dit hopelik weer ’n plek wees waar gesinne in ’n veilige omgewing kan braai, visvang en ontspan.
Ferguson sê daar is beslis nog karp en babers in die dam. “Dit is net nodig om ’n rukkie op die oewer te staan, dan sien jy hulle swem hier.”
Hy nooi die gemeenskap om ’n draai by die dam te kom maak en self ’n hand by te sit of ’n skenking te maak om die projek te ondersteun.
“Ek besef dit is nie iets wat ons binne ’n paar weke gaan regkry nie, maar ons glo teen volgende jaar hierdie tyd gaan die dam weer lyk soos voorheen.”
Mense wat betrokke wil raak, kan Ferguson by 082-810-4062 bel.