Byna 60% van die mense wat Saterdag (04/06) nader gestaan het om skaapkop te proe het dit ’n eerste keer gedoen.
Só gesels Paul Müller, bemarking- en advertensiebestuurder van Sentraal24 en lid van die Wilde Weste-skaapkopgilde, oor dié gereg wat vanjaar ’n nuutjie op De Oude Kraal se WildsKOSfees was.
Bloemnuus, deel van Sentraal24, was die mediaborg vir dié fees, wat vanjaar die 22ste keer op De Oude Kraal aangebied is.
“Ons laat die nuwelinge eers ’n stukkie skaapwang proe,” sê Müller, wat saam met ander lede van die gilde skaapkop aan gaste bedien het.
“Die wangvleis proe soos ’n sappiger weergawe van skaapboud. Dan gee ons vir hulle ’n stukkie van die knarserige vel.”
Sommer gou sien hulle dan kans vir nog.
“Ons laat hulle aan die harsings proe – dit smaak soos murg. Baie van hulle sien dan selfs kans vir die skaapoog.”
Skaapkop was een van ongeveer 100 geregte wat wildsvleis, asook hoender, vark, bees en ander vleis, en die heerlikste slaaie ingesluit het.
Een van die hoogtepunte van die geleentheid was die bereiding van die vlakvarkboude wat die vorige aand tydens ’n seremonie in die grond begrawe is. Ná 12 uur tussen kole in die grond was dié vleis, met paprikasuurlemoenbotter in ’n deeg toegemaak, heerlik sag met ’n rokerige smaak.
’n Ander lekkerny was rugstring gevul met witsjokolade, uie en knoffel, toegedraai in netvet.
Benewens die blinklip-geregte waaraan digby 1 500 gaste kon smul, was daar ’n gourmet-saal waar gaste met BBP-kaartjies die proe-happies saam met uitgesoekte wyn kon proe.
Marie-Louise Nel, Marie Lombard en hul span het langer as drie weke gewerk om al die vleis, sous en geregte te berei.
“Ons was dankbaar dat dit Vrydagaand lekker koel was sodat al die vleis wat berei is, gereed was vir die fees,” het Marie op die geleentheid gesê.
Die wynmakers en eienaars van wynplase wat Vrydag op die landgoed oorgeslaap het, is met ’n lekker koue aand verwelkom.
Gelukkig was die weer Saterdag sonnig en heerlik, en besoekers het ure lank by die fees gekuier terwyl kunstenaars soos Herman Kleinhans gaste vermaak het.
“Dit is een van die lekkerste feeste waarop ek nog was,” sê hy.
Hy en sy vrou, Maryke, al die pad van Patensie, het die verskeidenheid wildsvleis baie geniet.
Reze Barnard, een van die gaste wat ná ’n lang dag van proe saam met haar vriendinne sit en kuier het, sê die krokodilvleis was vir haar regtig lekker. Haar vriendin Winel Keyser sê haar gunsteling was die takbok-filet wat met ’n bietjie murg bedien is.
Dít, alles afgesluk met van die land se heel lekkerste wyn en vonkelwyn.