Neem deel aan die afdeling waar jy ‘n kreatiewe foto by die muurskildery van die kameelperd by Reitzis Square moet neem. Foto ter illustrasie


Tyd raak min om daardie perfekte foto op Naval Hill te gaan neem.

Inskrywing vir die Vriende van Franklin se jaarlikse fotografiekompetisie sluit op 19 April.

Foto’s wat op Naval Hill en in die Franklin-natuur­reservaat op die koppie geneem is, kan ingeskryf word.

Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, sê daar kort veral nog baie inskrywings in die afdeling wat vanjaar bykomend geskep is.

“Ons vra mense om ’n prettige foto in te skryf wat hulle by die kameelperdkuns by die Reizis-plein-inkopiesentrum neem. Marius Jansen van Vuuren en Letshego Theodore Shago het einde verlede jaar baie moeite gedoen om die pragtige kunswerk in Torbetstraat, net buite die sentrum, te skep,” sê Grobbelaar.

Sy sê mense moet kreatief wees en oulike foto’s daar gaan neem wat hulle vir die kompetisie kan inskryf.

Die samestelling van die afdelings vir 2021-’22 se kompetisie lyk effens anders as dié van die vorige kompetisie, waarvan die wenners op Bloemnuus se voorblad gepronk het. Net vier afdelings is oop, waarvan die laaste een nuut is:

* afdeling 1 – Naval Hill-wild­lewe (voëls uitgesluit, maar volstruise ingesluit);

* afdeling 2 – Naval Hill-voëllewe (volstruise uitgesluit);

* afdeling 3 – landskap van Naval Hill, of die stad soos van Naval Hill gesien; en

* afdeling 4 – foto by Reizis-plein se kameelperd-kuns.

Inskrywing kos R100 per afdeling, met ’n maksimum van drie foto’s per persoon, per afdeling.

Die inskryfgeld sal aangewend word om die biodiversiteit van die ekostelsel te bewaar en voeding vir die wild in die Franklin-natuurreservaat te koop.

* Die inskryfvorm kan bekom word deur ’n e-pos na friendsoffranklin.­bfn­@gmail.com te stuur of Grobbelaar by 083-542-6556 te bel. Die wenfoto’s sal in Bloemnuus gepubliseer word. 

You need to be Logged In to leave a comment.