Het jy al jou kaartjies vir vanjaar se De Oude Kraal WildsKOSfees?


Oor net ‘n bietjie as twee weke gaan die vleisbraaivure en die heerlike geure van gebraaide vleis besoekers van heinde en ver roep na die Vrystaat se gewildste en oudste WildsKOSfees.
De Oude Kraal bied op 7 Junie weer dié fees aan, wat aan besoekers die geleentheid gee om aan ‘n verskeidenheid van wildsgeregte, skaap-, bees-, varkvleis en selfs krokodilvleis te smul.

Kom kuier vanjaar weer in die Vrystaatse winterson by De Oude Kraal buite Bloemfontein vir die jaarlikse WildsKOSfees. Foto: Verskaf


Die gourmet-geregte wat Marie Lombard, sjef en stigterslid van die WildsKOSfees voorsit, is van uitstekende gehalte en bevestig die veelsydigheid van organiese wildsvleis wat so eie aan Suid-Afrika is.
Vanjaar spog De Oude Kraal weer met van die beste wynplase in die Wes- en Suid-Kaap waarvan die eienaar of wynmaker self hul eie stalletjies kom beman en kom gesels oor hul wyn.
Wynliefhebbers kan proe aan wyne van bekende landgoedere soos Anthonij Rupert, Babylonstoren, Beyerskloof, Capensis, Cederberg, Diemersfontein, De Krans, Diemersdal, Glen Carlou, Jakkalsvlei, Kranskop, Kleine Zalze, Meerhof, Neil Ellis, Paul Clüver, Raka, Rickety Bridge, Sanniesrust, Warwick, Spier en Thelema.

Proe wyn van 22 van die land se top-wynlandgoedere. Foto: Verskaf


Gerhard Lombard van De Oude Kraal sê hierdie plase van verskillende wynstreke, maak dit ‘n ongelooflike verskeidenheid van smake en keuses wat eie is aan De Oude Kraal se WildsKOSfees.
“Hierdie wynervaring beloof om feesgangers se wynkennis en smaak te verryk,” sê Gerhard.
“Die fees se uitleg is so dat besoekers maklik tussen stalletjies kan beweeg om verskillende wyne en wildsgeregte te proe. Elke wynstalletjie sal gepaard gaan met ‘n gepaste wildsgereg of bykos, wat ‘n heerlike kulinêre avontuur verseker.
“Ons sien uit daarna om feesgangers te bederf met die beste kos- en wynkombinasies van die streek.”
Feesgangers kan uitsien na 22 wynstalletjies en 24 kosstalletjies elk met vyf tot ses geregte van 16 soorte wildsvleis.

Kom proe die heerlikse wildskosgeregte. Foto: Lientjie Mentz


Daar sal vanjaar ‘n eksklusiewe BBP-middagete met bypassende wyn bedien word vir gaste wat graag die volle ervaring van Marie se kulinêre vernuf wil proe.
Herman Kleinhans is die gaskunstenaar op vanjaar se fees, so verwag ‘n dag van lekker kuier met heerlike kos.
Natuurlik is daar ook heelwat vir die kinders om te doen, asook ‘n spesiale tarief vir kinders van 13 tot 16 jaar. Aktiwiteite vir oud en jonk sluit skiet met ‘n .22-geweer asook kleiduifskiet, perdry of ‘n rit op die trekker en wa. Vir nog groter pret, kom neem deel aan die koedoe-spoeg-kompetisie. BloemNuus is die gedrukte mediaborg van dié gewilde De Oude Kraal WildsKOSfees.
Kry jou kaartjies vandag nog by De Oude Kraal se webwerf by deoudekraal.com, by Delta-drankwinkel op die hoek van Tweedelaan en Pres. Reitzlaan, by Crazy Daisy in Fleurdal Mall of by Daisy & Co in Prellerplein.

Daar is nie net heerlike kos om aan te smul nie, daar is ook pret soos die koedoe-spoegkompetisie. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.