Trek jou dagboek nader en merk sommer nou al Saterdag 8 Junie af as die dag waarop jy jou sal kan verlustig in die beste wildskosgeregte en heerlike wyn in Suid-Afrika.
De Oude Kraal se gewilde WildsKOSfees is ’n hoogtepunt waarna kosliefhebbers, wyn-entoesiaste en avontuursoekers van oor die land heen jaarliks uitsien.
Marie en Gerhard Lombard van die De Oude Kraal-landgoed beloof om vanjaar ’n onvergeetlike ervaring aan feesgangers te bied.
“Ons is verheug om gaste van alle ouderdomme by ons WildsKOSfees te verwelkom,” sê Gerhard.
“Vanjaar is ons opgewonde om ’n uiteenlopende reeks ervarings aan te bied wat voorsiening maak vir die jonger geslag, terwyl ons getrou bly aan ons verbintenis om uitsonderlike kos, wyn en vermaak vir almal te lewer.”
Kaartjies vir ’n eksklusiewe kos-en-wynproe-geleentheid is beskikbaar waar Marie en haar span gaste met BBP-kaartjies op ’n smaaktoer sal neem.
Dit sluit ’n demonstrasie van talle geregte en ’n praatjie oor waarom die spesifieke smake gekies is om by ’n sekere wyn te pas, in. ’n Eksklusiewe wynveiling word ook hier in die BBP-saal aangebied.
Op die fees sal daar weer ’n groot verskeidenheid wildsvleis-geïnspireerde geregte by 24 stalletjies geproe kan word. Besoekers sal kan smul aan meer as 17 wildspesies soos blesbok, springbok, eland, koedoe, rooihartebees asook sappige wildvleispasteie en geregte met skaap- en beesvleis, vis en hoender sodat daar regtig iets vir elke vleisliefhebber is.
Alles word gekomplimenteer met bykosse en heerlike sousies wat jy van jou vingers sal wil aflek.
Vanjaar gaan daar weer wyn van 22 bekende wynkelders geproe kan word. Wynkelders soos De Grendel, Diemersdal, Kleine Zalze en Byerskloof bring altesaam 120 soorte wyn na die fees.
Proe kraakvars witwyn, volronde rooiwyn en alles tussenin terwyl jy jou gunstelinge ontdek. Die wyn sal op die fees te koop aangebied word, sodat jy sommer dadelik jou wynversameling met jou nuutste gunstelinge kan aanvul.
Die fees bied nie net iets vir die smaaksintuie nie. Vir oud en jonk is daar prettige aktiwiteite van buitelugspeletjies tot begeleide natuurwandelings.
Die spesiale gaskunstenaar vir vanjaar se fees is Dodo Nyoka wat bekendheid verwerf het op seisoen 2 van die TV-reeks Die Kontrak.
Dodo is die nuutste gesig in Afrikaanse musiek en sy energieke musiek met liedjies soos Country Girl van Bloem gaan die gehoor vermaak terwyl hulle saam met vriende en familie op die WildsKOSfees kuier.
Die BBP-kaartjies kos R1 000 wat eksklusiewe toegang tot die kos-en-wynsessie insluit.
Gewone toegangskaartjies wat aan gaste heel dag toegang tot al die kosstalletjies gee, asook die geleentheid om van al die wyn op die fees te proe, kos R595.
Toegang vir kinders van 7 tot 12 jaar is R100 en jonger kinders se toegang is gratis.
Die kaartjies is beskikbaar by Crazy Daisy in die Fleurdal Mall, by die De Oude Kraal Plaaswinkel in Curielaan 123, by die Delta-drankwinkel in Pres. Reitzlaan, Westdene, asook by Daisy & Co in Prellerplein.
Kaartjies is ook aanlyn beskikbaar op deoudekraal.com of stuur ’n e-pos na info@deoudekraal.com.
Bespreek ook by 071-679-6596 of op die landlyn by 051-564-0636.
“Kom ons lig ’n glasie om goeie tye en goeie herinneringe te herdenk by vanjaar se 24ste WildsKOSfees,” nooi Gerhard en Marie.
Bloemnuus is die gedrukte mediaborg van die 24ste De Oude Kraal WildsKOSfees.