Op die vergadering van die Gardeniapark-en-Wilgehof-woonbuurtvereniging is van links Jacques Meiring (bestuurder van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging), Amanda van As (Gardeniapark-woonbuurtvereniging) en Schalk van Vuuren (verteenwoordiger van Wilgehof). Foto: Lientjie Mentz

Daar is 820 woonhuise in Wilgehof, en as inwoners saamwerk en ‘n bydrae maak, kan dié woonbuurt voor die einde van die jaar heeltemal ‘n omswaai beleef en ‘n netjiese omgewing wees.

Só meen Schalk van Vuuren, verteenwoordiger van Wilgehof in die saamgestelde Gardeniapark-

Wilgehof-woonbuurtvereniging.

‘n Vergadering met inwoners van Wilgehof is op 26 Mei in die kerksaal van die NG kerk Wilgehof gehou, waar Amanda van As, voorsitter van dié woonbuurtvereniging, en Jacques Meiring van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) inwoners toegespreek het oor die voordele daarvan om aan so ‘n vereniging te behoort.

Meiring het gesê ‘n bydrae tot ‘n woonbuurtvereniging behels nie net ‘n bydrae tot inwoners se onmiddellike omgewing nie; dit verbeter al die inwoners se lewensgehalte.

Die FWA het sedert sy ontstaan gegroei tot ‘n organisasie met ‘n kantoor en 19 heeltydse personeellede.

Meiring sê misdaad het met 80% in dié woonbuurt verminder danksy die goed funksionerende veiligheidsplan en die inkoop van die inwoners.

Van As sê inwoners help om parke en verkeerseilande in stand te hou, met die hulp van ander organisasies waar nodig.

“Soms werk ons van 07:00 tot 17:00 aan opruimingsprojekte. Hoe meer hande ons het, hoe beter.”

Van Vuuren het verduidelik dat hoewel Wilgehof en Gardeniapark een woonbuurtvereniging vorm, die lidmaatskapgeld van inwoners van Wilgehof in Wilgehof aangewend sal word.

“Dit is waarom dit belangrik is dat meer inwoners betrokke raak en hulle aansluit om ons woonbuurt te verbeter.”

Meiring sê die FWA ondersteun graag ander verenigings en help tans in Hosptiaalpark en DeFleurSig.

Hy het ‘n hand uitgesteek om die Gardeniapark-Wilgehof-vereniging te help om lede te werf en te help met administrasie.

You need to be Logged In to leave a comment.