’n Lekker naweek word beplan met die opening van Hospice se liefdadigheidswinkel op Saterdag 2 April te vier.
Die winkel, waaroor Bloemnuusreeds verlede jaar berig het, open dan amptelik en stel ook sy nuwe winkel op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke bekend.
Bloemfonteinse argitek Anton Roodt het Phoebe Pretorius en Heleen Bekker gehelp om die winkel langs die restaurant op die museumterrein te ontwerp.
Netjiese gebruikte klere, breekware, juweliersware en ’n biblioteek is alles in die nuwe winkel gevestig en gaste sal by die koffiewinkel kan ontspan.
“Benewens die nuwe winkel is die vorige winkel by die personeelparkeerterrein as ’n materiaalwinkel ingerig waar materiaal en wol gekoop kan word,” sê Pretorius. “Daar is ook ’n winkel waar klere te koop aangebied word wat vir buite die huidige seisoen gepas is en ’n vraghouer vol kinderspeelgoed.”
Pretorius sê hul droom om kinder- en ander partytjies hier aan te bied, het nou ook waar geword.
“Ons kan partytjies hier in die winkel, op die stoep of in die restaurant langs die winkel aanbied, afhangend van getalle. Ons het ook ’n oulike donkie, Cleopatra, wat kinders sommer baie sal geniet.”
Saam met die opening van die winkel gaan ook ’n mark aangebied word waarop besoekers kan rondsnuffel, en om 17:00 bied die Bloemfontein Children’s Choir (BCC) saam met Tharo, Cézanne Yzelle en Ilne Fourie die musiekprogram In Harmoniein die amfiteater by die Oorlogsmuseum, op die terrein van die Nasionale Vrouemonument, aan. Kaartjies vir die vertoning kos R100 en is op phoenixpro.co.za beskikbaar.
Die Hospice-winkel is Dinsdae tot Vrydae van 08:00 tot 16:30 oop en Saterdae van 08:00 tot 14:00.