Die herrie wat ontstaan het nadat talle leerlinge oor die land heen voedselvergifting opgedoen het, en sommige selfs gesterf het vermoedelik weens eetgoed wat hulle by informele handelaars gekoop het, kring steeds uit.
In Bloemfontein het buitelandse eienaars van spazawinkels inderhaas hul voorraad verwyder nadat gemeenskapslede spazawinkels verlede week begin plunder en voorraad gesteel het.
’n Groot groep buitelanders, waarvan die meeste uit Ethiopië, het erken dat hulle nie toepaslike dokumente het om in Suid-Afrika te werk of handel te dryf nie.
Hulle het hul voorraad in die parkeerterrein van die woonstelblok Mount Cedar in Raymond Mhlabastraat geberg.
John de Bruin, metro-raadslid van die Patriotic Alliance (PA), het ’n wenk gekry dat voorraad hier by die woonstelblok geberg word en het die polisie, asook die departement binnelandse sake, laat weet sodat hulle kon gaan ondersoek instel.
De Bruin het op Maandag 11 November by Mount Cedar met die winkeleienaars gepraat en gesê hulle moet die regte dokumente hê om winkels te bedryf.
Sers. Peter Kareli sê 51 mense is verlede week vir openbare geweld in hegtenis geneem nadat hulle spazawinkels geplunder het.
Hy het bevestig hulle het intussen in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.
Kareli sê dit is nou rustig in die stad.
Dr. Thabang Thinda, departementshoof van gemeenskapsdiens in die metro, het Vrydag inspeksie by ’n pakhuis in die Bloemfonteinse middestad gedoen van waar, na bewering, voorraad aan spazawinkels versprei word.
Saam met hom vir die inspeksie was Theodorah Mosala, burgermeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling; Vumile Nikelo, hoofsweep van die Mangaung-metro; en Nokuthula Chaka, departementshoof van beplanning, ekonomiese sake, ontwikkeling en nedersettings.
Dit kom nadat 43 kinders van die Laerskool Ihobe in Phahameng siek geword het, na bewering nadat hulle sjokolade en lekkergoed geëet het wat hulle by straatsmouse en spazawinkels in die stad gekoop het.
Mondli Mvambi, woordvoerder vir die departement van gesondheid, het Maandag laat weet dat al die kinders wat oor die provinsie heen in hospitale behandel is vir voedselvergiftiging, ontslaan is.
Intussen bly die meeste spazawinkels gesluit.
De Bruin sê die spazawinkels koop by algemene handelaars, maar daar is ook van hulle wat voorraad koop wat onwettig verkoop word.
Uit talle oorde is verkoop van kos rondom of in skole verbied.