Bring vriende, familie en selfs jou hondekinders aan ’n leiband en kuier op Saterdag 1 Junie gesellig saam op die Franse Mark by Villa Avianto.
Die mark begin om 08:45 met ’n klokkespel.
Van 09:00 af kan gaste tussen die groot verskeidenheid stalletjies drentel en sommer daar ontbyt geniet.
Soos met elke mark is daar talle nuwighede. Die aanbod van nuwe uitstallers sluit in ’n klassieke klere-reeks, Franse crêpes, ’n nuwe babareeks en Catherine Cronje se baard-olies en -sjampoes.
Daar gaan ook seekos verkoop word op Saterdag se mark.
Kom geniet boonop die heerlike gourmet-sop en brood om die winter te vier.
Jani Niehaus en ’n marimba-orkes sal deur die loop van die mark tot 15:00 lekker musiek maak.
Begin die eerste dag van winter op ’n sonnige noot by die Franse Mark en bederf jouself en jou geliefdes met alles wat op die mark te koop is.
Toegang kos R40; R30 vir studente en pensioentrekkers ouer as 60 jaar; R20 vir kinders in gr. 8 tot gr. 12; en R10 vir kinders in gr. 1 tot gr. 7. Voorskoolse kinders kry gratis toegang.
BloemNuus is die mediaborg van die Franse Mark.