Naval Hill se historiese Wit Perd het op Erfenisdag (24/09) ’n broodnodige opknapsessie ontvang.
Die Naval Hill-natuurbewaringsgroep, Vriende van Franklin, het toestemming by die Vrystaatse Erfenisraad gekry om dié nasionale gedenkwaardigheid aan die oostelike hang van die koppie oor te verf.
Die perd is 15 jaar laas opgeknap en heelwat werk was nodig.
Andri Grobbelaar, voorsitter van Vriende van Franklin, sê die proses het reeds vroeër die jaar begin toe gif gespuit is om bossies dood te maak. Vroeër die maand het Anchor of Hope se span wat maandeliks op Naval Hill werk met die borgskap van Raubex die bossies op die klipplaat verwyder en die gedeelte rondom die perd skoongemaak.
Coenie Strohfeldt van Laminin Paints sê hulle dreig al ’n ruk lank om die Wit Perd oor te verf.
“Ons het gesien Vriende van Franklin is besig met so ’n projek, en ons het hulle gekontak. Dit het ons die perfekte geleentheid gegee om betrokke te raak,” sê hy.
“Dit was lekker om te sien hoe opgewonde mense raak om saam aan dié projek te werk.”
Laminin het al die verf geborg. Personeel van Laminin en die boumaatskappy Treysta het met die afskuur- en skoonmaakwerk gehelp voordat daar geverf kon word.
Reinhardt Ras van Spray-it Roofing het die verfwerk teen die styl helling behartig, terwyl Kevcor veiligheidstoerusting verskaf het.
“Ons sou dit aanvanklik met die hand verf,” sê Grobbelaar.
“Ons was so dankbaar dat iemand met die regte toerusting dié groot werk vir ons makliker gemaak het.”
Lede van die NG kerk De Bloem het kerrie-en-rys gemaak, en Ds. Jannie Smith van dié gemeente het die gereg kom opskep om die vrywilligers vir hul harde werk te bedank.
Hy sê dit is lekker om te sien hoe mense en plaaslike ondernemings saamwerk om dié geskiedkundige baken in stand te hou.
Grobbelaar sê die publiek kon om veiligheidsredes nie aan die projek deelneem nie.
“Die omgewing is bykans onbegaanbaar en ons wou nie hê enigiemand moes seerkry nie.
“Dit was nog altyd die Vriende van Franklin se doel om as fasiliteerder mense wat spesialiste op hul gebied is saam te laat werk vir die opheffing van Naval Hill en die reservaat se natuurlewe.”
Strohfeldt en sy span het ook 22 asdromme die lemmetjiegroen kleur van die Mangaung-metro geverf en die asblikke op Naval Hill vervang.
Boonop het vrywilligers Vrydag aan ’n skoonmaakprojek bo-op die koppie deelgeneem. Deelnemers aan die weeklikse Naval Hill City Run het ’n projek tydens ’n spesiale City Run-geleentheid gehou. Move One Million, lede van die Naval Hill City Run, lede van die Universitas-woonbuurtvereniging en ander vrywilligers het sowat 81 vullissakke se rommel opgetel.
- Lees op bl. 8 oor die oorsprong en geskiedenis van die Wit Perd.