Dr. Roy Jankielsohn by die Witherowdam-steengroef. Foto: Lientjie Mentz


Wit paaltjies met die woorde Gevaar/Danger is al waarskuwingstekens om die publiek in te lig oor die gevaar van die Witherowdam-gruisgroef in Heidedal.

Daar is geen heining rondom dié dam nie. Die dam hou nie net ’n gevaar vir die gemeenskap van Heidedal in nie, maar is ook ’n groot knelpunt wat dwelmmisbruik in die buurt betref.

Dr. Roy Jankielsohn, die DA se provinsiale leier, het vandag ’n optog gelei na die Heidedal-polisiekantoor waar ’n memorandum oorhandig is oor die gevare wat die Witherowdam en gruisgroef vir kinders en volwassenes inhou.

Sowat 150 mense het deelgeneem aan die optog met plakkate soos “Red ons kinders” en “DA eis optrede deur die SAPD”.

Die DA het vandag ’n optog deur die strate van Heidedal gehou teen die gevare van die Whiterowdam en dwelms in dié woonbuurt. Foto: Verskaf

DA-raadslid Attie Terblanche sê die dam en veld rondom die dam waar die steengroef is, is ’n nes vir dwelmhandel.

“Sedert 2000 is daar talle mense en kinders hier dood. Ons sukkel om presiese getalle by die polisie te kry,” sê Terblanche. Die nuutste voorval was die dood van Dustin Kukari (26) wat 12 Junie as vermis aangemeld is en wie se lyk later hier gevind is.

Terblanche sê een van die groot probleme is dat Heidedal se swembad nou al lank toe is. Elke somer kom swem kinders hier in die dam om af te koel en mense vang ook hier vis.

“Dit is nie veilig vir ons kinders hier nie,” sê Terblanche.

Gemeenskapleier Gregory Werner het kort ná Kukari se dood aan die Menseregekommissie geskryf en gevra dat daar dringend ingegryp word om verdere lewensverlies te voorkom.

In antwoord op Jankielsohn se vraag in die Vrystaatse Wetgewer aan Ketso Makume, die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, oor stappe wat geneem gaan word om die steengroef te beveilig, het Makume aanbeveel dat die polisie ’n ondersoek doen om inligting en bewyse in te samel om die voorvalle te dokumenteer en regstellende stappe te neem. Die LUR beveel aan dat die polisie ’n skrywe aan die grondeienaars uitreik oor die stappe wat geneem moet word om die risiko van die dam te verminder of uit te skakel.

Die karige paaltjies wat gevaar rondom die Whiterowdam-steengroef aandui.Foto: Lientjie Mentz

Jankielsohn sê in antwoord van die ministerie van minerale bronne en energie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ontvang is, is die rehabilitasie van die gebied voltooi en ’n sluitingsertifikaat reeds in 2006 uitgereik.

In die memorandum aan die polisie word ook gevra dat daar ondersoek ingestel word na die omstandighede rondom die dood van Kukari. Die DA vra ook in die memorandum dat ander sterftes wat by en in die dam plaasgevind het, ondersoek word.

Jankielsohn, wat Vrydag (11/08) deur die leier van die DA John Steenhuisen aangewys is as die Vrystaat se premierskandidaat vir die DA, sê dit is so jammer dat die Witherowdam verlate staan en so groot krisis in die gemeenskap veroorsaak.

“Dit bied soveel moontlikhede vir ontwikkeling. Ongelukkig is die kanse skraal dat ontwikkeling hier sal plaasvind tot voordeel van die gemeenskap onder ’n ANC-regering,” het Jankielsohn by die gruisgroef gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.