Die spanning gaan hoog loop wanneer die Hoër Meisieskool Oranje, wie se hokkiespan nou bo-aan die Suid-Afrikaanse o.18-hokkie-ranglys is, die naweek die gasheer speel vir die Fairtree Top 12-hokkietoernooi, waar die tophokkieskole van oor die land heen teen mekaar meeding.
Die toernooi volg kort op die opwindende stryd op Dinsdag 6 Augustus toe Oranje die span van Eunice High School in die stadsliga-eindstryd gepak het en met 5 – 1 geseëvier het.
Eunice, nou sewende op die ranglys, het verlede jaar die toernooi gewen. Slegs een skool van buite Bloemfontein, die Hoërskool Menlopark, kon al daarin slaag om die toernooi te wen (2018).
Die ander deelnemende skole, volgens hul plek op die ranglys, is:
2. Rhenish Girls’ High (Stellenbosch);
3. Durban Girls’ College (Durban);
4. Paarl Gimnasium (Paarl);
5. St Mary’s Kloof (Kloof):
6. St Stithians College (Johannesburg);
8. Hoërskool Garsfontein (Pretoria);
9. Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch);
10. Hoërskool Menlopark (Pretoria);
11. St Anne’s Diocesan College (Hilton); en
12. die Hoërskool Waterkloof (Pretoria).
Die Fairtree Top 12-toernooi vind van 8 tot 10 Augustus op Oranje se sintetiese veld plaas.
Die spanne van Paarl en Rhenish het albei verlede jaar na die halfeindstryd deurgedring en hulle is as sterk mededingers geoormerk.
Oranje is vanjaar die enigste deelnemende skool wat vir elk van dié toernooie gekwalifiseer het, sedert die eerste in 2014 (toe die Super 8-toernooi) aangebied is.
Dit is vanjaar die eerste keer dat drie skole van Pretoria deelneem:Waterkloof, Garsfontein en Menlopark. Daar is ook die eerste keer drie skole van KwaZulu-Natal, terwyl geen skool uit die Oos-Kaap gaan deelneem nie.
Van die land se topspelers neem van Donderdag af deel – van die 18 spelers wat vir die Suid-Afrikaanse o.18A-span gekies is, speel 11 in die toernooi. Boonop ding tien van die 18 lede van die Suid-Afrikaanse o.17-span wat later vanjaar in Maleisië gaan speel, in die toernooi mee.
Twee spelers wat al in aksie was in die toernooi, Antonet Louw (Oranje, 2014) en Taheera Augousti (Eunice, 2022 en 2023) het Suid-Afrika op vanjaar se Olimpiese Spele verteenwoordig.