Woede en die liefde van God bind mense saam ná moord

Roerende tonele het hulle Saterdag afgespeel toe die gemeenskap voor Die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof saamgetrek het ná die wrede moord op Betsie Kruger, haar dogter Janine Theron en Janine se man, Christo.


Roerende tonele het hulle Saterdag afgespeel toe die gemeenskap voor Die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof saamgetrek het ná die wrede moord op Betsie Kruger, haar dogter Janine Theron en Janine se man, Christo.

Lede van die gemeenskap, kinders wat in die dagsorgsentrum versorg is, asook hul ouers en ouers en kinders wat vroeër jare by die skool betrokke was en lede van die Collegians-rugbyklub, het ’n gedenkbyeenkoms voor die huis bygewoon.

Ouers en personeel het hartseer hulde gebring aan Betsie Kruger wat vir soveel jare dié dagsorgsentrum bedryf het.

Daniella Janjies wie se twee kinders Bella-Rose (9 maande) en Noah-Mason (3) by die skooltjie was, sê tannie Bets was meer as net ’n dagmoeder. “Sy was baie goed vir my kinders. Ek het bedags geweet hulle is op ’n goeie plek.”

Die sowat 40 kleuters wat by die dagsorgsentrum versorg is sowel as hul ouers het blomme, boodskappies en geel ballonne gebring.

Johannes Bekker van Collegians wie se kind ook hier in die dagsorg was, sê tannie Bets was ’n mentor vir soveel ouers.

Van Christo het hy gesê, die Collegians-familie gaan hom baie mis. “As Christo sy skrumpet op die veld opgesit het, het hy sy alles gegee. Hy was ’n yster.”

Ook JJ Wessels van Collegians het op die geleentheid gesê daar is ’n stukkie seer in almal teenwoordig se harte.

“Christo was nie net ’n speler nie. Hy was vir ons soos ’n broer. Hy was ons braaimeester – die een wat ’n stukkie vleis ordentlik kon braai.

“Ons harte is baie seer. Dit is siek tye waarin ons leef. Hierdie ding het ons laat besef dat tyd kort is. Tyd is geleen. Ons moet terugkom na die Here.”

Ouers het lof gebring aan Janine vir die hulp wat sy by die skool gegee het. “My kinders het gesê tannie Janine se swieties is die lekkerste,” het een van die ouers gesê.

Ds. Pikkie Maritz van die NG gemeente Ooshoek het gesê mense van verskillende tale, kulture en kerke word saamgebind deur twee emosies weens die gebeure: woede en die liefde van God. “Ons is almal verslae oor wat gebeur het, maar ons moet weet dat God se liefde ons omring. Dit is die samebindende faktor hier.”

Lede van AfriForum en VRMed het die geleentheid bygewoon.

Christo Groenewald, Afriforum se distrikskoördineerder, sê lede van AfriForum het die geleentheid bygewoon om hul afkeur in geweldsmisdaad te wys en om die familie en gemeenskap te ondersteun.

Die Parkweg-polisie ondersoek nog die omstandighede waarin die drie na verneem word Donderdagaand (28/06) vermoor is. Die lyke is Vrydag ongeveer 08:50 gevind en die polisie is na die misdaadtoneel ontbied. Die drie is binne die huis in Van Heerdenstraat 2 gevind. Hulle was vasgebind en gewurg. Geld, ’n skootrekenaar en ander persoonlike items is tydens die voorval gesteel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.