Inwoners van Lourierpark is woedend oor duisende onwettige grondbesetters wat sedert gisteraand strukture op munisipale grondgebied rondom dié woonbuurt in Bloemfontein opslaan.
DA-raadslid van wyk 18 waarin die besetting plaasvind, David Mc Kay, sê inwoners van Lourierpark wat al jare vir grond wag, is ontsteld oor die mense wat van oraloor kom om die grond naby hul woonbuurt te beset.
Mc Kay sê daar is nou tussen 3000 en 5000 mense wat na die grondgebied stroom om hul huise op te rig. “Die situasie is uiters plofbaar. Daar is geen water op die gebied wat die mense beset nie en daar is die gevaar dat hulle infrastruktuur in die nabygeleë Lourierpark gaan beskadig en dat daar konflik tussen wettige inwoners van Lourierpark en die besetters kan ontstaan.”
Die Mangaung-metro het by monde van sy woordvoerder Qondile Khedama in ‘n nuusverklaring gesê die metro veroordeel ten sterkste die grondbesetting wat nou by Lourierpark plaasvind.
Die onwettige oprigting van strukture in die veld om Lourierpark tot by die Bloemdal-afrit al langs Lourierpark tot by Rooidam, het reeds gisteraand begin.
Volgens wat verneem word het vier raadslede van ander wyke mense aangemoedig om die grond te beset.
Khedama sê alle relevante departemente van die metro is betrokke. “Die metro se grondbesettings-eenheid in die menslike nedersettingsdirektoraat, het ‘n klag gelê om ‘n uitsettingsbevel te bekom. Dit sal die wetstoepassingspan en die polisie die mag gee om mense hier te verwyder.”
Mc Kay sê inwoners van Lourierpark, Fauna en Pellissier hou die situasie gespanne dop.
“As hierdie onwettige besetters nie vinnig verwyder word nie, gaan hulle net meer word,” sê Mc Kay.