Die Mangaung-metro erken nie die nuutgestigte AfriForum-brandweerdiens in Bloemfontein as ’n toegewese diens in die gebied nie, omdat hy nie volgens die Wet op Brandweerdienste van 1987 so ’n goedgekeurde diens is nie.
AfriForum het op 4 Junie bekend gemaak dat hy die eerste private brandweerdiens in Bloemfontein open.
BloemNuus het verlede week oor dié brandweerdiens berig.
“Verder is die metro se brandweerdiens die beheer-owerheid ingevolge die wet,” sê Sello More, munisipale bestuurder.
Dit beteken dat Mangaung se brandweer die magte het om volgens art. 8 en 9 van die wet beheer oor brandbestryding toe te pas en om die dienste te kan lewer.
Hy sê AfriForum se brandweerdiens is onwettig en “ons gaan hulle uitdaag”.
Qondile Khedama, hoofbestuurder van kommunikasie vir die metro, sê daar bestaan in dié stadium geen ooreenkoms tussen AfriForum en rampbestuurkomitees van die provinsiale en nasionale regering nie, “maar ons moet op hul terugvoering wag”.
Billy Barnes, wat in beheer van rampbestuur by die metro is, sê in ’n skrywe net brandweerspanne van die metro het in dié stadium die mandaat om brandweerdienste in die Bloemfontein-gebied te lewer.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die metro se brand-en-reddingsdienste, sê by navraag dit is nie waar dat die metro se diens “op die grond lê of swak is nie en ons werk daagliks kliphard om ons heel beste te lewer”.