Die vroue aan die werk met handwerkartikels is van links Sophie Mekhoe, Elizabeth Mnwana, Nelly Olayi, Nthabiseng Ndabeni en Georgina Collins.Foto’s: Lientjie Mentz

Die pragtige produkte wat as voorbeeld dien van hoe ’n volhoubare waarde­ketting vir wolboere bedryf kan word, is die afgelope paar jaar op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Paradys-proefplaas ontwikkel en het nou volsterkte bereik.

Dié projek is moontlik gemaak deur die Streeksuniversiteitsforum vir die uitbouing van landboukapasiteit (Ruforum).

Prof. JW Swanepoel, hoof van ontwikkeling aan die departement van volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling waaronder al die derdestroom- en ontwikkelingsprojekte val, sê 100 dohne-merino’s is gekoop, skaapskeer­geriewe is opgeknap en ’n werkswinkel is ingerig waar sewe vroue heeltyds handwerkprodukte uit wol en ander materiaal maak.

Met van die viltspeelgoed is van links prof. Johan van Niekerk (departementshoof van volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling), Carien Denner-Vorster (programleier), prof. JW Swanepoel (program-koördineerder) en Doretha Jacobs, almal van die departement landbou aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Spin- en weefgeriewe word ook op die perseel gehuisves.

“Nie net word hier gewys hoe die wolwaardeketting van begin tot einde gevoer word nie, dit bied ook ’n wonderlike geleentheid vir navorsing deur meestersgraad- en doktorale studente,” sê Swanepoel.

Prof. Johan van Niekerk, departementshoof van volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling, sê die projek bied praktiese ervaring aan die UV se studente.

“Benewens die voordeel vir studente, skep die projek werk vir vroue en bied dit ook die geleentheid vir kleinboere om praktiese opleidingskursusse in die bestuur van die hele produksieproses van ’n wolboerdery by te woon,” sê hy.

Keikautseng Matekoane, ’n boer wat so ’n kursus bygewoon het, sê dié soort werksessies help haar baie. Sy wou meer oor die klassifikasie van wol leer.

Swanepoel sê met die werksessies wil hulle wolboere ondersteun om entrepreneurs te word.

“Ons glo die projek sal kleinboere in die Vrystaat help om hul boerdery uit te brei.”

Van die viltspeelgoed wat deur die projek gemaak word, gaan op 5 Mei in Bloemskou se naaldwerksaal uitgestal word. Besoekers sal kan sien hoe wol in bemarkbare produkte omskep word.

Carien Denner-Vorster, projekleier, sê die goeie wol word geklas en na die nasionale wolveiling gestuur.

“Ons gebruik die oortollige wol om gebreide en viltprodukte te maak.”

Carien Denner-Vorster en Doretha Jacobs met die wol wat met ’n spesiale drukpers tot vilt verwerk word. Foto: Lientjie Mentz

Om vilt te maak, verduidelik sy die wol word eers deur ’n kaardmasjien uitgekam en daarna in ’n drukpers in drie lae oormekaar gedruk terwyl dit nat is.

“Wol het iets soortgelyks aan skubbe, en die lae klou aan mekaar vas.”

Die wol word ook gekleur sodat helderkleurige viltspeelgoed daarmee gemaak kan word.

Doretha Jacobs, bestuurder by die werkswinkel, sê dié speelgoed gaan ook vanjaar op Nampo te sien wees.

Rig navrae aan haar by 073-231-3985.

Die kaardmasjien waarmee oorskot-wol gekam word voordat dit gepers word as vilt.

You need to be Logged In to leave a comment.