Binne ’n paar weke het die Westdene-woonbuurt­vereniging nie net talle slaggate in die buurt gevul nie, maar ook padtekens geverf.

Volgens Henry Symington, voorsitter van dié vereniging, is 16 stoptekens in Tweede Laan in April geverf.

“Dit sluit onder meer die kruising met Brillstraat in waar talle ongelukke die afgelope ruk plaasgevind het.”

Symington sê die regrukprojek, waarvoor die vereniging R15 000 wou insamel, kon uiteindelik met R17 123 werk.

“Danksy die wonderlike ondersteuning van onder­nemings in Westdene kon ons die projek verder uitbrei en verf koop om al die stop­tekens oor te verf sodat hulle weer duidelik kan wees.”

Hy sê die vereniging wil graag nog meer doen en kwessies in die sakesentrum aanpak.

“Ons probeer soveel moontlik doen met die beperkte fondse tot ons beskikking,” sê hy.

“Hoe meer ondernemings en inwoners by die vereniging betrokke raak, hoe meer kan gedoen word om Westdene op te hef.”

You need to be Logged In to leave a comment.