Wetstoepassers het Vrydag vroeg toegeslaan op mense wat onwettig by die verlate mini-gholfbaan op die hoek van Eerstelaan en Parkweg woon.
As deel van die Mangaung-metro se projek Eis die stad terug (“Reclaiming the City”) het verskeie eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, asook die metro se wetstoepassingsbeamptes, die oortreders se besittings opgeruim.
Dit is lank reeds bekend dat mense dié verlate perseel langs die Stadion-swembad onwettig beset.
Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, word mense wat hier woon daarvan verdink dat hulle by verskeie misdade soos roof, diefstal uit motors, asook inbrake by ondernemings en huise in die omgewing, betrokke is.
Covane sê 11 mense is van die perseel af verwyder en daar is op 1 kg dagga beslag gelê.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
Werknemers van die nasionale uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) het die perseel ná die tyd opgeruim en skoongemaak.