Wyno Simes, kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), ontvang die WAT se sertifikaat van Paul Colditz, voorsitter van die Vereniging van Vriende van Naln. Foto: Mlungisi Louw


Die Vereniging van Vriende van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) het die woorde “museum” en “letterkunde” eksklusief namens die museum by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geborg.

Paul Colditz, voorsitter van die vereniging, het die sertifikaat op Woensdag 6 Desember aan Wyno Simes, kurator van die museum, oorhandig op die 200ste herdenking van pres. Johannes Henricus (Jan) Brand se verjaardag.

Brand, wat die Vrystaat se vierde president was, se standbeeld staan voor Naln in Bloemfontein.

Colditz sê hulle wou as deel van die vieringe van Naln se 50ste bestaansjaar ’n besonderse geskenk aan die museum gee.

Die datum op die sertifikaat wat aandui dat die twee woorde eksklusief namens Naln geborg is, is 24 Maart – die datum waarop die museum in 1973 gestig is.

“Dit is ook ’n besonder geskiedkundige geleentheid om pres. Brand se verjaardag sommer saam met die skenking van die twee woorde te herdenk,” sê Colditz.

Naln het vanjaar 14 byeenkomste ter viering van sy halfeeu-mylpaal gehou. Die laaste een was ’n besoek van Leon van Nierop toe hy ná die Vriende van Naln se algemene jaarvergadering op 18 November oor sy nuwe boek, Duiwelsroos, gesels het.

Danksy die eksklusiewe borg sal die Vriende van Naln vir die volgende vyf jaar gratis elektroniese toegang tot die WAT hê.

Annelien Diedericks, sekre­taresse van die Vriende van Naln, sê die WAT is nie net ’n woordeboek nie, maar ’n ensiklopediese woordeboek met beskrywende­ gebruike van ’n woord.

Sy vertel toe haar ma, Lenie van der Linde, nou 93, in die Hoërskool Vryburg was, het hulle ’n projek gehad waar die leerlinge moes help om die woordeboek te bou.

“Kinders moes letterlik woorde en name neerskryf en die hele gemeenskap is betrek. Dit is nou die gemeenskap se kans om terug te gee om die woorde te borg en te verseker dat hierdie woordeboek kan voortbou.”

Die WAT hou eersdaags ’n trekking van al die individue en entiteite wat al ’n woord geborg het. Hulle kan R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam.

Diedericks sê hulle is reeds opgewonde oor volgende jaar se geleenthede by Naln.

Eerste aan die beurt is die digter Hannes Visser, wat sy eerste misdaad­roman, Voorblad, op 15 Februarie in die museum se ouditorium bekend sal stel.

You need to be Logged In to leave a comment.