Op die oog af klink dit of ’n woordeboek vir wiskunde oorbodig is, maar een blik in dié stewige boek van 386 bladsye, en selfs ’n leek kan die waarde daarvan sien.
Willie de Klerk, oudonderwyser van die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein het die behoefte geïdentifiseer om ’n woordelys saam te stel om leerlinge en onderwysers met wiskundige terme te help.
Hy het met Bloemfonteiners dr. Anelize van Biljon en haar seun, Hannes, saamgewerk en gou besef dat ’n baie meer volledige woordeboek saamgestel moet word.
Die tweede uitgawe van die Wiskundewoordeboek vir Skole wat volledig in Engels en Afrikaans uitgegee is, is in Februarie voltooi.
“Aan die einde van ’n skooljaar moet kinders hul handboeke teruggee. In die volgende jaar het hulle dikwels nie die vorige graad se boeke waarheen hulle kan terugverwys nie,” verduidelik Van Biljon die waarde van die boek. “Dit bied dus een bron waar leerlinge wiskundeterme kan gaan opsoek.”
Sy sê die dubbelmedium-woordeboek is ’n fantastiese naslaanbron vir kinders veral van gr. 4 tot gr. 10, maar ook vir onderwysers wat wiskunde aanbied.
Nie net word elke term bespreek nie, daar is ook sketse wat leerlinge baie gaan help om wiskunde in die algemeen beter te verstaan.
Van Biljon, wat ’n jarelange liefde vir wiskunde het en uitblinker-wiskundeleerlinge help om vir nasionale en internasionale olimpiades voor te berei, sê daar is geen volledige gids in Suid-Afrika beskikbaar nie.
“Terme wat in ander lande gebruik word, verskil dikwels heeltemal van Suid-Afrikaanse terme. Dit skep baie verwarring. Hierdie woordeboek vergemaklik leerlinge se begrip van wiskunde.”
Sy sê die boek is iets tussen ’n woordeboek en ’n ensiklopedie.
De Klerk sê die saamstel van die boek was ’n reuse-werk, veral omdat hulle besluit het om dit in Afrikaans en Engels te doen. “Die boek is ideaal vir onderwysers wat nie noodwendig ’n deeglike wiskunde-agtergrond het nie, maar wiskunde as vak moet aanbied.”
Hoewel hulle ernstig daaroor is dat wiskunde nie ’n leervak is nie, maar ’n verstaanvak, beklemtoon hulle dat almal ’n basiese kennis van wiskundige terme moet hê.
“Jy moet eers weet wat ’n beginsel genoem word en hoe dit werk, dan kan jy dit prakties toepas,” verduidelik De Klerk.
Hannes, wat al die sketse vir die boek gedoen het, ontwikkel nou ook ’n e-publikasie van die boek.
“Dit is glad nie so eenvoudig soos wat dit klink nie,” sê hy. “Alles moet aangepas word vir só ’n publikasie.”
Hy sê hy hoop om die e-publikasie in April of Mei te voltooi.
Die gebinde boek is teen R200 beskikbaar. Besoek die webwerf wiskwoordeboek.co.za of stuur ’n e-pos na navrae@wiskundewoordeboek.co.za om ’n bestelling te plaas.
Een leser staan die kans om ’n kopie van die Wiskundewoordeboek vir Skole/Maths Dictionary for Schools te wen. Besoek Bloemnuus se Facebookblad om in te skryf en skryf in die comments: Wiskunde.