Inwoners van wyk 47 in die Mangaung-metro kan môre en Sondag registreer vir die tussenverkiesing wat op 29 November daar plaasvind.
Dit kom nadat die voormalige DA-wyksraadslid Mokgadi Kganakga uit die DA en as raadslid bedank het.
Sy het haar intussen by ’n nuwe politieke party Rise Mzanzi aangesluit, maar staan nie in die tussenverkiesing nie.
Een van die kandidate wat hom vir die wyk beskikbaar stel, is die sakeman Rudi Maartens. Hy staan as die DA se kandidaat in dié wyk.
Stempunte waar registrasie plaasvind, is Saterdag en Sondag van 08:00 tot 17:00 oop vir alle stemgeregtigde kiesers en vir kiesers wat hul registrasiebesonderhede wil nagaan.
Daar is nou 8 645 geregistreerde kiesers in wyk 47 wat die hoewegebied van Roodewal, Bloemspruit asook Pinehaven, Raceway, Grassland, Bloemside en dele van Heidedal insluit.
Die registrasiepunte is die NG kerk Bloemvallei, ’n tent by Pine Heaven, die Heatherdale Sekondêre Skool, die Edmarita-PrePrimêre Skool, die Rooms Katolieke kerk, die Academy of Excellence Primêre Skool, die Dr. Bethuel Setai Intermediêre Skool, ’n tent in Rodericksingel, die Laerskool Dr. C.F. Visser en ’n tent in Acarta Fase 3.
Spesiale stemme kan op 28 November tussen 08:00 en 17:00 gedoen word en tuisbesoeke kan ook gereël word. Doen aansoek by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se kantoor tussen 13 en 17 November vir spesiale stemme of doen dit deur die kommissie se webwerf op elections.org.za te besoek.
Die volledige lys van kandidate sal nader aan die tussenverkiesing deur die OVK beskikbaar gestel word.