Die DA het op 29 November in die tussenverkiesing wyk 47 behou, met Rudi Maartens wat die nuwe wyksraadslid is.
Die DA het 50,02% van die stemme verwerf, die Patriotic Alliance (PA) 25,95%, die ANC 17,03%, die EFF 6,95% en die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) 0,41% van die stemme.
Die oorwinning is groter as in die munisipale verkiesing in 2021 toe die DA 44,20% van die stemme in die wyk gekry het.
Wyk 47 bestaan uit Rykmanshoogte in Heidedal, dele van Bloemside en Grasland, Pinehaven, Arcata, Estoire en Roodewal.
Maartens sê hy fokus nou daarop om homself aan inwoners in al die dele van die wyk voor te stel en diensleweringskwessies aan te pak.
Hy sê hy werk nou onder meer daaraan om saam met vrywilligers slaggate in Heidedal te laat regmaak en om ’n dienspunt vir die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in Heidedal te vestig.