Die stigter van die Beyerskloof-wynlandgoed, Beyers Truter, sê De Oude Kraal se kos-en-wynproe-etes kan met van die beste in die wêreld vergelyk word.
Truter het Vrydag (22/07) self kom gesels oor die ses wyne wat Marie-Louise Nel en ’n kospaneel vooraf geproe het.
Hulle het spesifieke kossmake geïdentifiseer wat die wyn sou komplimenteer.
Elk van die ses geregte het die smake van ’n spesifieke wyn na vore gebring. Al die geregte is met pinotage of ’n pinotage-versnit bedien.
Die Beyerskloof Pinotage 2020 wat goed met die smake soet, room en umami saamgaan, is met ’n tamatiesop bedien wat gemaak is van songedroogte tamaties, gerookte roomkaas, versuikerde boermanna en soya-kaviaar.
Truter sê dié wyn gaan baie goed saam met tamatiebredie en lamsvleis en is daarom die perfekte pasmaat by dié gereg.
Die Beyerskloof Traildust 2019 is met ’n visgereg wat die bitter, sout en botter-smake wat by dié wyn pas, bedien.
’n Gereg wat tarentaal, ’n kwartelboudjie, fyngedrukte soetpatats met gekrummelde Oreo-koekies en ’n suurlemoenmarmelade ingesluit het, is saam met die Beyerskoof Synergy 2020 bedien.
’n Wyn wat baie na aan Beyers se hart lê, is die Beyerskoof Diesel – vernoem na ’n hond waarvoor hy baie lief was.
Saam met die umami en soet smake wat uit die Diesel 2019 na vore kom, is ’n gereg met onder meer ’n parmesaan-koekie met tiemie en sjokolade, sampioen-en-truffel-risotto met saffraan, lamsvleis, ’n geposjeerde kwarteleier en ingesoute eiergeel bedien.
Die vleisgereg bestaande uit bief-filet, swartpeper, botter en piesangbrood met uie, cheddar, olyf en piesang-blatjang, en swartpeper-springmielies en mielies is saam met die 2019 Beyerskloof Faith bedien.
Die laaste, soet gereg van die aand is met die Beyerskloof Pinotage Reserve 2019 bedien.
Dit was ’n smullekker sjokolade-koek met pistachio-kaaskoek, karamelsous en sjokolade-mousse.
Die volgende wyn-en-kosproe-geselligheid by De Oude Kraal is op 26 Augustus waar die wynmaker van Rickety Bridge meer oor dié wyn sal kom vertel.