Bloemnuus vat vanjaar hande met die wynverskaffer Vin Do om ’n stalletjie te bring na besoekers aan die Vrystaat Kunstefees se minimark, wat van 12 tot 16 Julie op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word.
Gerrit Zulch het Vin Do in 2003 in Bloemfontein begin.
Die naam kom van “Vin” in Vin Doux, wat sprankel beteken, en “Do” wat dui op doen. Dus: Doen jou werk met sprankel.
“Wyn is ons passie en ons lewe,” sê Zulch.
“Elke dag is daar veranderings – ’n mens is nooit te oud om nuwe dinge te leer nie, veral as dit by die wynmaakbedryf kom.”
Gerda Stander is sedert 2006 by Vin Do betrokke en geniet elke oomblik.
“Ek deel graag my kennis en vind die stories en geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf baie interessant,” sê Stander.
“Wynbemarking is nie net ’n werk nie, maar ’n leefwyse van genot en passie.”
Stander gaan die week van die minimark by Vin Do se stalletjie in die Callie Human-saal wees.
’n Verskeidenheid wyn sal by die stalletjie geproe kan word en besoekers sal wyn kan koop.
Een van die landgoedwyne wat op vanjaar se fees geproe kan word, is dié van Meerhof.
Die wynmaker is Jaco Brand en die eienaars sedert 2017 is Erik en Koos Jansen van Rensburg.
Wingerde is reeds in 1751 op dié landgoed geplant en sedert 2000 word in alle erns wyn geproduseer.
Benewens die wyn wat feesgangers op die minimark sal kan proe, sal daar vanjaar ook ’n kaasbord beskikbaar wees.
Gaan ontspan dus by Vin Do se stalletjie en geniet die wyn met ’n lekker eetdingetjie voordat jy verder tussen die stalletjies op die mark drentel.