Wysigings in Bela-wet stap in die regte rigting

Die wysigings wat gister aan die Wysigingswet op Onderwyswette (Bela) deur die Nasionale Raad van Provinsies se komitee vir onderwys, tegnologie en sport goedgekeur is, is werkbaar.


Die wysigings wat gister aan die Wysigingswet op Onderwyswette (Bela) deur die Nasionale Raad van Provinsies se komitee vir onderwys, tegnologie en sport goedgekeur is, is werkbaar.

Dit is die mening van dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), oor die omvattende wysigings aan die weergawe wat goedgekeur is.

Die aanvanklike wysigings rakende taal- en toelatingsbeleid, wat die besluitnemingsmag na die onderwyshoof sou skuif, is tot so ’n mate aangepas dat dit steeds ’n funksie van ’n skoolbeheerliggaam bly. “Dit gee wel beperkte oorsigkapasiteit aan onderwyshoofde maar met duidelike riglyne oor hoe dit moet gebeur.”

Deacon sê hulle ondersteun die huidige formaat van die Bela.

“Wetgewende prosesse verloop dikwels baie stadig en dit mag dalk soms voel asof van hierdie aksies ’n futiele oefening is. Wat Bela betref, is dit egter ’n voorbeeld van hoe ’n gesonde, demokratiese proses behoort te werk. Fedsas is ook dankbaar dat die departement, minister en politici die derduisende openbare insette met die nodige erns hanteer het. Die deelname van die skole, gewone burgers en verskeie organisasies was deurslaggewend in die veranderinge wat aangebring is.”

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se lid van die parlement en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, sê egter omdat daar veranderings aangebring is, is die taak nog nie voltooi nie. Die komitee beplan om die proses op 2 Mei af te handel.

“Aangesien die teks wat provinsies reeds goedgekeur het deur die komitee gewysig is, moet dit nou na provinsiale wetgewers teruggaan vir goedkeuring, eers daarna kan dit teruggaan na de Nasionale Raad van Provinsies. Dit moet eers teruggaan voordat die president dit kan teken.

Boshoff sê die verkiesing is om die draai op 29 Mei. “Daar mag dus dalk ’n nuwe parlement wees wat ’n beter wetsontwerp kan oorweeg.”

Fedsas was van meet af aan gekant teen die voorgestelde wysigings oor toelatings- en taalbeleid, sentrale aankope, die openbare verklaring van belange en oormatige finansiële verslagdoening. In die jongste wysigings bepaal die beheerliggaam steeds die toelatings- en taalbeleid sonder dat dit deur ’n onderwyshoof goedgekeur hoef te word. Waar ’n onderwyshoof wel ’n finale besluit oor toelating moet neem, moet die skool se beleid gebruik word, dit moet in oorleg met die beheerliggaam plaasvind en die administratiewe besluit moet redelik, regmatig en prosedureel billik wees

Fedsas was sedert 2017 ten nouste betrokke by die Bela-proses. “Hoewel die organisasie hom dikwels in die openbare sfeer uitgespreek het oor van die meer omstrede wysigings, was die organisasie deurlopend as ? onderwysvennoot by die proses betrokke en deur die organisasie se ervaring op grondvlak te gebruik om bydraes te maak oor die praktiese uitvoerbaarheid van sommige wysigings.”

Die voorgestelde wysigings is nou van so ’n aard dat openbare skole steeds openbare skole bly wat deur skoolbeheerliggame beheer word. Dit was die oorspronklike visie van die Suid-Afrikaanse Skolewet en die huidige weergawe, in teenstelling met vorige weergawes, gee weer gestalte hieraan.

“Fedsas was van meet af aan gekant teen die voorgestelde wysigings oor toelatings- en taalbeleid, sentrale aankope, die openbare verklaring van belange en oormatige finansiële verslagdoening. In die jongste wysigings bepaal die beheerliggaam steeds die toelatings- en taalbeleid sonder dat dit deur ’n onderwyshoof goedgekeur hoef te word. Waar ’n onderwyshoof wel ’n finale besluit oor toelating moet neem, moet die skool se beleid gebruik word, dit moet in oorleg met die beheerliggaam plaasvind en die administratiewe besluit moet redelik, regmatig en prosedureel billik wees.” Die bepalings is nou ook in lyn met die Konstitustionele Hof se uitsprake in die Rivonia- en Ermelo-sake waar ’n presedent reeds geskep is oor die magte van besluitneming wanneer dit kom by taal en toelating in skole.

Deacon sê die volgende stap moet die afkondiging van regulasies oor die bepaling van die kapasiteit van ’n skool wees. “Fedsas het reeds ’n omvattende voorlegging hieroor aan die minister gedoen. Sulke regulasies sal meetbare, objektiewe kriteria daarstel wat aangewend moet word om te bepaal wanneer ’n skool vol is. Waar ’n onderwyshoof ’n ander taal by ’n skool wil invoer, is daar nou ’n duidelik voorgeskrewe proses wat gevolg moet word, wat aan skole beter beskerming gee.”

Fedsas is ook tevrede dat sentrale aankope van die departement nie meer verpligtend nie. Beheerliggame kan steeds na die beste opsies vir die skool kyk as leermateriaal gekoop moet word. So ook is die bepalings dat alle lede van beheerliggame hul volle finansiële belange sowel as dié van nabye familielede moet verklaar, geskrap omdat die wet reeds bepalings het waar botsende belange verklaar moet word.

“Fedsas het van die begin af sekere bepalings ondersteun. Dit sluit in ’n nuwe definisie van lyfstraf, bepalings wat meer duidelikheid gee oor dissipline, die byvoeging van ’n verpligte graad R en die hantering van leerlinge sonder die nodige dokumentasie, byvoorbeeld leerlinge sonder geboortesertifikate en buitelandse leerlinge sonder studiepermitte.”

Deacon verduidelik dat Bela nou deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur moet word. Omdat daar omvattende wysigings is, moet dit dan terugverwys word na die Nasionale Vergadering. Indien die Nasionale Vergadering dit goedkeur, gaan dit na die president vir bekragtiging.

“Daar moet steeds baie water in die see loop en met die algemene verkiesing om die draai, sal dit steeds ’n uitdaging wees. Fedsas is egter tevrede dat daar wesenlike vordering met die konsepwet gemaak is,” sê Deacon.

“Bela is nou al lank in die nuus, en met reg. Maar dit is belangrik dat ons onsself voortdurend daaraan herinner dat die hele proses met al die kommentaar, kritiek en kommer een doel het, naamlik die behoud en bevordering van gehalte-onderwys vir alle kinders in Suid-Afrika.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.