Vanjaar se Ysbeerswem vind op Saterdag 25 Junie om 12:00 plaas in die Allemanskraaldam.
Die afgelope twee jaar het Covid-19 deelnemers aan dié gewilde liefdadigheidswemsessie gedwing om by die huis in die yskoue te swem.
Felix Burri, organiseerder, sê voorsiening word gemaak vir 300 swemmers en almal wat inskryf kry oudergewoonte ’n medalje. “Reëlings vorder goed en veiligheidsreëlings word getref.” Lede van die Vrystaatse Mensereddingsklub en bekwame Goudveldse paramedici sal op die toneel wees.
Die Rotariërs van Odendaalsrus sal verversings verkoop en Goldco Midas verskaf die pryse.
Burri sê die nuwe terrein by Aldam bied lekker uitdagings. “Ons gaan nie vanjaar deur ’n rivier swem nie, maar deur ’n deel van die dam. Dit gaan opwindend en uitdagend wees.”
Hy sê groepgees gaan weer gemeet en getoets word en ’n verskeidenheid ‘karakters’ word verwag.
“Baie navrae is reeds ontvang van oor die hele streek. Ons sien uit om weer die tradisionele swem aan te bied. Dit sluit nie die res van die land en dié wat werksvepligtinge het uit nie. Die wat nie by Aldam kan wees nie, kan tuis swem.”
Die gewilde viertrekroete kan nie aangebied word nie, maar daar gaan steeds ’n Ysbeerfees gevier word.
Die hoop is om boeresport of kaskenades aan te bied soos die gewildheid van die Ysbeerpret op die nuwe terrein groei. Die nuwe tradisie, ’n middernagswem, sal aangebied word met ’n waardevolle geskenkpak en ’n Ys-like groot medalje vir moediges. Die koste vir die nagswem is R500.
Koste by die hek is R100 per voertuig en die swem kos R75. Laat inskrywings (ná 11:45 en ná die eerste 300 inskrywings) sal ’n premie betaal vir administratiewe koste en moontlike posgeld vir medaljes. Rig navrae oor die swem aan 082-851-4584 en oor huisvesting aan 082-772-7010.